Op Woensdag 16 November 2011 het die Wonderboom Seniors Aksie hulle bedrywighede na ‘n geseënde jaar by ‘n gesellige byeenkoms afgesluit.

Ons lede is vermaak deur die groepie Pipe Fantasies bestaande uit Hendrik Brits (panfluit) en Marinda Oberholtzer (sang).

image006
Soos gewoonlik het almal heerlik saam gekuier en ‘n ligte ete geniet.
Die Aksie het aan die begin van 2010 besluit om ook uit te reik na ander bejaardes noord van die Magaliesberg. Dit word gedoen deur skenkings van die lede van handwerk in die wintermaande en kontant bydraes deur die loop van die jaar.  In 2010 is die ouetehuis Huis Hermon as begunstigdes aangewys en aan hulle is bedsokkies en ander breiware in die winter besorg asook ‘n bloeddrukmonitor aan die einde van 2010.  
Vanjaar het die uitreikprojek op die SAVF Ruimte-dienssentrum in Pretoria-Noord gefokus. Weereens is bedsokkies en ander breiware in die winter aan inwoners voorsien. Die Bestuur van Ruimte het aangedui dat hulle ‘n tekort aan grootdruk Bybels vir inwoners met swak sig het. Op 16 November 2011 is agt van hierdie Bybels aan verteenwoordigers van Ruimte oorhandig.
 
image003

Mitzi du Toit oorhandig Bybel aan Irene de Beer van Ruimte met Mienie Delport wat toekyk

 
Daar word met dankbaarheid teruggekyk na ‘n jaar waarin die liefde van ons hemelse Vader in die Aksie ervaar is ondanks verskeie gevalle van ongesteldhede en sterfgevalle onder ons lede.
Met die oog op die Groot Voorsiener gerig, sien die Aksie uit na 2012 as nog ‘n jaar waarin sy missie uitgeleef ken word binne die raamwerk van ons gemeente.

Die Aksie staan oop vir enige senior lidmaat wat saam met mede-gelowiges gesellige sosiale interaksie wil meemaak.