Kleingroepnota (pdf)

1. DEEL MET MEKAAR LIEF EN LEED.

2. RUS IN GOD SE TEENWOORDIGHEID EN TYD – God nooi jou in sý teenwoordigheid in. Bid saam vir die byeenkoms, of jou stiltetyd.

3. LUISTER NA GOD SE WOORD – LEES JOHANNES 1:35 – 42. LEES OOK JOHANNES 3:16 – 18. Dit is duidelik dat Jesus van die begin af mense om Hom vergader om Hom tevolg, in antwoord op die  liefde van God vir alle mense. JOHANNES 3:16 beskryf ook die liefde van God, en wat Hy doen om mense te red. Wat tref jou dadelik van hierdie teksgedeeltes? GESELS DAAROOR.

4. LUISTER NA MEKAAR EN DIE WÊRELD – hoe reageer die wêreld vandag nog op hierdie boodskap? Veral ten opsigte van Jesus se lyding?

5. LUISTER WEER NA DIE WOORD – LEES WEER bogenoemde tekste.

6. FOKUS OP WAT GOD DOEN – kyk weer mooi na  Johannes 1 verse 35 – 42:  in die ander Evangelies roep Jesus mense as sy dissipels, om Hom te volg “na God toe”. In Johannes word hulle aan Jesus gebind deurdat hulle Hom herken, en erken, as die “Lam van God”. Dan volg daar ‘n spontane aansluiting by Hom! Johannes gee ‘n ander perspektief op hoe God mense na Hom toe trek, deur Jesus. JOHANNES 3:16 is seker die bekendste teks in die Bybel. So eenvoudig staan dit daar:  God het “…sy enigste Seun gegee…” Dit behels egter die volle heilsweg wat Christus vir ons voltooi het. Hierin word sy totale lyding ook verwoord! Deur die lydensweg van Christus wil God jou terugbring na Hom. God het, en sal, alles nodig doen om jou te red. Die Bybel is vol voorbeelde van mense met wie God ‘n pad moes loop om hulle terug te bring na Hom. GESELS DAAROOR. God doen alles wat nodig is om jou te red. God volg jou met die kruis van Jesus! Hy gee elke tree tot by jou. Sy doel is om jou te gee wat jy bo alles nodig het, die ware lewe! God gee sy enigste Seun, tot aan die kruis, vir jou. Hy gee ook sy Heilige Gees, om jou te oortuig en tot geloof en lewe te lei! God volg jou eenvoudig meedoënloos met sy liefde en genade! GETUIG TEENOOR MEKAAR hoe jy dit in jou eie lewe ondervind het. Die krip en die kruis was so algemeen soos elke dag in daardie tyd. Maar die Een wat in die krip gelê het, en aan die kruis gesterf het, vir jou…Hy is die Een wat tot alle uiterstes gegaan het, en steeds sal gaan, vir jou. So lief het God jou! Dit is die boodskap wat gedra word deur die Heilige Gees, in die Woord, Brood en Wyn (nagmaal).

7. ANTWOORD MET JOU LEWE – hoe kan ons op hierdie boodskap reageer, wat eintlik vir ons so “oorbekend” geraak het? Raak dit ons nog regtig dat God doen wat Hy doen, om mense te red? Hoe pas jy doelbewus in by sy reddingsplan vir mense? Hoe kan die nagmaal met die tekens van die brood en die wyn ons eie geloof versterk? Hoe kan ons hierdie boodskap van God se liefde en offer die wêreld indra, daar waar ons sy gestuurdes is?

8. BID SAAM – aan die hand van die byeenkoms, die gebedsbrief, en soos die Gees ons lei.