Kleingroepnote (pdf)
1. Lief en leed -Deel met mekaar julle lief en leed en wat jou Sondag met die eredienste getref het.
2. Ingenooi in God se rus en tyd - Dit is Lydenstyd – die tyd waarin God Homself uit liefde deur Jesus Christus met ons kom deel het. Dit is ook Valentynsdag – ‘n dag waarop die wereld romantiese liefde vier – die liefde tussen man en vrou, ou en meisie... God nooi ons om iets van sy ware liefde te beleef en te beantwoord.
3. Luister na God se Woord - Lees Efesiërs 1:3-14 eers in stilte en dan hardop deur. Let op van W(w)ie daar gepraat word. Van God, die Vader, ons Here Jesus Christus, die Heilige Gees, van ons God se kinders, ens. Let op na die verskillende benaminge van elkeen van die Triniteit (Drie-enige God) asook van ons.
4. Luister na mekaar en die wêreld – Daar is verskillende godsdienste in die wêreld. In sommige opsigte stem baie van die beginsels in die godsdienste ooreen, en in ander is daar weer verskille. Deel met mekaar oor hoe julle die ooreenkomste en verskille sien. Ons glo dat Christenskap die (enigste) ware godsdiens is. Saam met die Judaïsme (Jodedom) en die Islam glo Christene dat daar net een God is – ‘n monoteïstiese godsdiens. Tog glo ons ook dat God Drie-enig is – in die Triniteit. Deel met mekaar oor hoe julle God Drie-enig verstaan. Kan ons sy Drie-eenheid verstaan?
5. Luister nou weer na die Woord - Lees nou weer Efesiërs 1:3-14. Let op na wat die gedeeltes elke keer oor God Drie-enig sê. Onderskeidelik oor God – die Vader; en oor God – die Seun en oor God – die Heilige Gees! Hier gaan dit oor die Triniteit – die Drie-eenheid van God. Gesels en dink oor hoe en of ons die Drie-eenheid van God kan verstaan en verduidelik. Miskien met water, ys en stom – of ‘n eier met ‘n dop, eierwit en eiergeel, of ‘n kers met ‘n pit, was en ‘n vlam! Die Drie-eenheid is ‘n interessante begrip; dat God Een wese het, maar uit drie Persone bestaan. Dalk sou ons die Triniteit eerder as ‘n Drie-enigheid kon verstaan? Steeds Een wese en drie Persone, maar met die klem op die verhoudings en dinamika tussen God die Vader, Jesus Christus en God die Heilige Gees. Die Griekse woord hiervoor is Perichorese – die intieme verweefdheid en liefdesverbondenheid tussen Vader, Seun en Gees. Dit is soos ‘n verweefde dans waarin nie net die Vader, Seun en Heilige Gees betrokke is nie, maar ook ek en jy – God se kinders!
6. Fokus op wat God doen - En dit is die wonderlike! God Drie-enig skakel my en jou ook hierby in! Hy het ons lief en is ons goedgesind (Die Vader is God vir ons). Hy het ons kom vryspreek en verlos (Jesus Christus is God met ons – Immanuel) en so het Hy sy liefde in ons hart uitgestort en woon Hy in ons (Die Heilige Gees is God in ons!) En Hy stuur jou en my om elke dag uit sy liefde te gaan leef en sy liefde te gaan uitleef! Soos die Vader die Seun gestuur het en die Seun die Gees gestuur het, stuur die Heilige Gees my en jou en rus Hy ons toe (maak ons gewillig en bekwaam) om sy wil uit te voer en sy liefde en genade uit te deel!
7. Antwoord met ons lewe - Word nou weer stil voor die Here en dank Hom dat Hy God vir, met en in ons is en dat Hy ons seën met sy liefde en stuur om sy liefde uit te deel! Vra die Heilige Gees dat Hy ons sal lei om waarlik getuies te wees van die ewige teenwoordigheid van God, van die verlossing deur Jesus Christus en die liefde van die Vader! Gaan getuig dan van en leef dan uit God se liefde!
8. Bid nou saam
- Bid tot God, die Vader Seun en Gees en loof Hom vir sy liefde, vryspraak en leiding.
- Verootmoedig jouself voor God dat jy gehoorsaam en blymoedig sy leiding sal volg.
- Bid ook ons gemeente – die getuienis en liefde wat ons as gemeente uitleef en dank Hom dat Hy Homself ook as Vader, Seun en heilige gees aan ons verbind het in die doop.
- Bid ook vir alle doopouers – dat hulle hulle kinders in God se Naam sal grootmaak!