Kleingroepnota (pdf)

1. DEEL MET MEKAAR LIEF EN LEED.

2. RUS IN GOD SE TEENWOORDIGHEID – Bid saam vir die byeenkoms.

3. LUISTER NA GOD SE WOORD – LEES MATTEUS 27:45-46 EN ROMEINE 8:31-39. Ons oordink en herdenk in hierdie tyd die lyding van die Here Jesus, ter wille van elkeen van ons. Ons doen dit ook in voorbereiding om Goeie Vrydag en Paasfees te vier. Wanneer jy
hierdie twee Skrifgedeeltes lees, wat tref jou ten opsigte van Matteus 27:46? Wat dink jy is
die betekenis daarvan? BESPREEK DIT. Wat tref jou ten opsigte van Romeine 8:32? Wat
is die betekenis daarvan? BESPREEK OOK DIT.

4. LUISTER NA MEKAAR EN DIE WêRELD – wat dink jy is die grootste misverstand of
struikelblok by die wêreld oor die lyding van die Here Jesus? BESPREEK DIT. Reeds in die
eerste eeue na Christus was ‘n lydende Christus vir die wêreld van daarde tyd ‘n vreemde
beginsel. Hoe kon Hy deur te ly, deur te sterf, oorwin? Dit klink nie na oorwinning nie. Dit klink na swakheid. Dink jy dit is vandag nog die wêreld se siening?

5. LUISTER NOU WEER NA DIE WOORD – lees weer Matteus 27:45-46 en Romeine 8:32.

6. FOKUS OP WAT GOD DOEN – wat doen God, dat ons ten opsigte van Jesus se lyding in
die 12 Artikels (belydenisskrif) bely: “Jesus het ter helle neergedaal’? Wat gebeur dat ons dit bely? Wat wil ons daarmee poog om te sê, elke keer as ons dit bely? Een van ons ander belydenisskrifte, die Heidelbergse Kategismus help ons hiermee. Dit gee ‘n reeks vrae en antwoorde oor die betekenis van Jesus se lyding. 1 )Waarom moes Jesus ly en sterf? Dit is die enigste wyse waarop vir ons sondes betaal kon word, slegs deur die sondelose Seun van God in ons plek. 2) Waarom is Christus begrawe? Om daarmee die versekering te gee dat Hy werklik gesterf het, vir ons. 3) Wat beteken dit dan dat ons bely dat Hy ter helle neergedaal het? ANTWOORD: dit gaan met hierdie belydenis om die Here Jesus Christus se onuitspreeklike angs, sy smarte, en sy verskrikking, en pyn, wat Hy aan sy siel deur sy hele lewe gely het, maar VERAL AAN DIE KRUIS GELY HET. Hierdie lyding is so intens dat dit menslik gesproke onuitspreeklik is! Ons het nie woorde daarvoor nie. Daarom probeer ons dit uitspreek met die woorde: JESUS HET TER HELLE NEERGEDAAL. Let egter op ‘n baie belangrike waarheid wat die Heidelbergse Kategismus uitspel: Jesus het ter helle neergedaal in sy HELE LYDING, EN VERAL AAN DIE KRUIS. Dit is belangrik. Nie eers ná die kruis nie, asof Jesus ná die kruis meer gely het nie. Jesus was NIE na sy dood na die hel toe nie. Hierdie belydenis, dat Hy “ter helle neergedaal het”, het NIE te doen met ‘n plek waar Jesus was nie, maar ‘n toestand waarin Jesus was. Die toestand van lyding, in onuitspreeklike angs, smart, pyn, en absolute eensaamheid. Die toestand van VOLKOME GODVERLATENHEID. Dit is die grootste hel. Daarom sê ons teks, Romeine 8:32, dat God Hom oorgelewer het! Hier dra Jesus die volle las van die toorn van God oor al die sonde van die wêreld! Deur God oorgelewer en verlaat. Hoe sou ons dit ooit kon begryp, of in woorde kon beskryf? Daarom bely ons dat “Jesus ter helle neergedaal het”. Dit is die onsigbare wat afspeel in Jesus se lyding, wat ons nie kan waarneem nie. Dit wat net Hy, die Vader en die Gees van weet.

7. ANTWOORD MET JOU LEWE, EN BID SAAM DAARVOOR – die Kategismus gaan dan verder en sê: Jesus het ter helle neergedaal SODAT ek in my swaarste aanvegtinge verseker kan wees, en myself volkome kan vertroos, dat my Here Jesus Christus my van die hel se benoudheid en pyn verlos het”! Hoe kan ek nou met my lewe op hierdie sekerheid reageer? BESPREEK DIT EN BID DAARVOOR.