1. Lief en leed – Deel met mekaar die lief en leed van die afgelope week asook wat jou Sondag met die eredienste getref het.
2. Die luistersiklus – Die luistersiklus is ‘n goeie inrigting van ‘n omgeegroep- of kleingroepbyeenkoms. Die luistersiklus bestaan uit drie groot bewegings: 1. Rus [en ontvang], 2. Hoor [en ontgin], 3. Leef [en ontplooi]. Die rus-beweging help ons om in ons gejaagde tyd voor God tot rus te kom. Die hoor-beweging help ons om uit verskillende hoeke te luister na God se Woord en die leef-beweging help ons om met ons lewe te antwoord. Elke byeenkoms / persoonlike stiltetyd sal dus onder die hoofde van 1. Rus en ontvang, 2. Hoor en ontgin en 3. Leef en ontplooi ingerig word.
3. Rus en Ontvang – Nadat julle gehoor het hoe dit met elkeen gaan, kan julle die Here loof en aanbid met ‘n paar liedere en/of gebede. Deel dan met mekaar oor hoe julle Sondag se eredienste met die doop beleef het. Dink dan saam na oor die doop en die betekenis daarvan vir jou. Kom die doop van God of is dit van mense? Gaan dit oor die verlede of bepaal dit die toekoms? Watter verkeerde persepsies dink julle bestaan oor die doop? Maak dit saak met watter water ‘n mens gedoop word, hoe oud of jonk jy is wanneer jy gedoop word en of jy besprinkel word of onderdompel word? Waaroor gaan die simboliek van die doop? Wat beteken dit om in die Naam van die Drie-enige God gedoop te word?
4. Hoor en ontgin – Lees dan Romeine 6:1-11. Wat tref jou in hierdie gedeelte en wat sê hierdie gedeelte spesifiek oor die doop?
5. Leef en ontplooi – Die doop is eerstens God se belofte van liefde en genade aan ‘n kindjie (persoon), nog voordat ‘n mens kan antwoord, en dan tweedens van ‘n gelofte van ouers aan God, wat die voorreg en verantwoordelikheid (roeping) uit God se hand ontvang om hulle kinders namens Hom groot te maak en aan sy liefde en wil te bind. Die eensydige persepsie bestaan dat die doop oor die ouers gaan wat hulle kind na God bring en aan Hom ‘n gelofte t.o.v. die kindjie maak. Wat die Here smeek om hulle kind genadig te wees! Maar dit is in die eerste plek God wat Homself aan ‘n klein kindjie belowe en die ouers oproep om die kind in sy Naam groot te maak! Die Here wag ook nie totdat ek en jy sou kon antwoord nie, maar belowe Homself, sy goedheid en verlossing aan mense voordat ons nog kon kies of vra. Natuurlik roep Hy ons daarmee op om met geloof te antwoord op sy liefde en genade, maar die mens se reaksie is altyd ‘n antwoord op God se roepstem! In enige verhouding is daar meer as een party. God het ons lief en ons beantwoord sy liefde!
Nog ‘n verkeerde persepsie oor die doop is dat dit net gaan oor wat Jesus Christus reeds vir ons gedoen het, m.a.w. net oor die verlede. Die doop bou natuurlik op Jesus se verlossing – dit is die simboliek van die water – dit wys na die bloed van Jesus wat reeds gevloei het. Maar die doop herinner ons ook aan die nuwe lewe. Jesus het gesterf en opgestaan en daarom leef ek en jy ‘n nuwe lewe saam met Hom. Die doop herinner ons aan hierdie nuwe lewe – ‘n opstandingslewe. ‘n Opstandingslewe wat jy saam met God as Vader, Jesus as Verlosser en die Heilige Gees as Lewensgids lewe. Dit is wat sy Naam (Vader, Seun en Gees) op jou voorkop beteken!
Deel nou met mekaar wat dit vir jou beteken dat God Homself aan jou verbind het met jou doop, selfs nog voordat jy kon antwoord. Dank die Here daarvoor in gebed en help mekaar dan met hoe die doop lewend in ons harte en lewens kan funksioneer; hoe ons elke dag ‘n opstandingslewe kan leef in die Naam van die Here!
6. Administrasie - Maak seker oor julle erediens- en nagmaaldiensbeurte
7. Sake vir gebed
- Bid vir die doopouers Adam en Melissa en Attie en Letitia Engelbrecht, hulle familie en hulle kinders Miecke en Alexis en Christiaan en Stefan wat Sondag ten doop gebring is.
- Bid vir die mense in die gebedsbrief of waarvan jy weet wat siek of hartseer is, en sê dankie saam met die met wie dit beter gaan.
- Dank die Here vir jou doop – dat Hy jou Vader is wat jou liefhet, vir Wie jy kosbaar is, dat Hy jou Verlosser is wat reeds genade aan jou bewys het en dat Hy jou Trooster en Leidsman is wat jou elke dag leer om ‘n opstandingslewe te leef!