Kleingroepnota (pdf)

DEEL LIEF EN LEED met mekaar en BID SAAM vir die byeenkoms.
LEES  1 KOR. 1:22-25 en gesels saam oor hierdie paar verse. Wat tref jou dadelik as jy dit lees?
Die kern is: ONS VERKONDIG CHRISTUS WAT GEKRUISIG IS!    -    Jesus Christus is ter wille
van ons verneder, en het ter wille van ons gesterf aan die kruis! Sy vernedering is reeds vanaf sy
geboorte, deur sy hele lewe, spesifiek ook die laaste deel van sy lewe in intense lyding, sy dood,
sy begrafnis, en dat Hy ter helle neergedaal het….Alles vir jou!!    GESELS SAAM OOR WAT DIT
VIR JOU BETEKEN.

SY GEBOORTE – beteken reeds dat Hy sy Godgelyke bestaanswyse prysgegee het om mens te
word. Jesus, self ook God, word mens. Hy gee sy heerlikheid by die Vader prys, en kom na die
gebroke sondige wêreld. Dit is vernederend. Hy kom om verneder en verag te word, en in ons plek
te ly en te sterf. 

SY LEWE  –  gedurende sy hele lewe het Jesus gely en is Hy verneder. Hy is
min geloof, of vereer. Sy ouers verstaan Hom nie. Sy eie dorp se mense erken en ag Hom nie. Die
mense sê Hy is van sy kop af. Hulle belaster Hom as ‘n vraat en wynsuiper, stry dikwels met Hom,
en verag Hom selfs.  

SY LYDING  –  Jesus het na liggaam en siel gely. Judas verraai Hom.
Sy dissipels laat Hom in die steek. Petrus verloën Hom. Hy word onregverdig verhoor. Hy word
beledig, gespot, gespoeg, gegésel, en moet self sy kruis dra. Spykers word deur sy hande en
voete geslaan, en Hy hang aan die kruis, tot die dood toe. Tog sê Jesus hy het volmag, en besluit
self om dit te doen!! Hy is nie ‘n slagoffer nie, maar die offer wat Homself gee uit eie keuse, juis
omdat Hy daardeur vir ons redding wil bewerk, in gehoorsaamheid aan God sy Vader. ( Johannes
10:18)  

SY DOOD   –  Jesus het aan die kruis gesterf. Dit was die grootste vernedering. Hy is
nie onthoof soos Johannes die Doper nie, of gestenig nie, of met ‘n spies deurboor nie, of
opgehang nie. Hy word gekruisig  omdat die kruis as die grootste vloek en vernedering gesien is
deur die mense van daardie tyd. Dit was ook die pynlikste teregstelling. Watter pyn en vernedering moes Hy nie verduur vir ons nie! Hy ly liggaamlik, en onskuldig geestelik vir ons sondeskuld! Uiteindelik roep Hy uit: “Dit is volbring!” Met ander woorde, Hy het volledig vir al ons skuld betaal. SY DOOD HET VIR ONS LEWE GEBRING! Sy diepste oomblik van lyding en vernedering, is ook sy grootste oorwinning!  

SY BEGRAFNIS   –  ook dit is vernederend. Die Koning van alle konings word verneder tot in die dood. Hy moes juis sterf omdat dit die loon van die sonde is. Die sonde verdien die dood self. Daarom moes Jesus ook begrawe word as bewys dat Hy inderdaad gesterf het in ons plek. Hy sou ook drie dae in die graf moes wees as bewys dat hy werklik dood was. Die Jode het geglo na drie dae is jy seker iemand is regtig dood. Hy is werklik dood ! Hy sterf in jou plek sodat jy kan lewe!  

SY NEERDALING TER HELLE  –  Dit beteken dat Jesus helse
pyn en smart vir ons verduur het. Jesus was nie letterlik in die hel nie. Hierdie woorde wil die
intensiteit van sy lyding vir ons aandui. “Ter helle” beteken gelyk aan ware helse pyn en smart. Dit wat ons verdien het as gevolg van ons sonde! Dit is die geweldige vernedering, en pyn, en lyding, wat Jesus na liggaam en gees vir ons kom ly het!     

GESELS SAAM OOR WAT DIT VIR JOUBETEKEN. WAT IS JOU ANTWOORD DAAROP? Hy het jou so intens lief dat Hy dit alles opoffer om jou lewe vir ewig by Hom te verseker. Kies vandag vir die enigste ware ewige lewe saam met Hom. Hy het die duurste prys vir jou betaal. Die prys wat net God jou Skepper kon betaal, om jou in liefde vir ewig by Hom te hê, as gevolg van sy ewige liefde vir jou!!    GEE JOU HELE LEWE VIR HOM EN LEEF VIR HOM!!

BID NOU SAAM : VIR DIE VIERING VAN PAASTYD, GOEIE VRYDAG, PAASFEES, EN JOU GETUIENIS!!