1.    LIEF EN LEED – deel met mekaar vir getuienis, bemoediging, voorbidding,
geloofsversterking, en bo alles eer aan God.

2.    INGENOOI IN GOD SE RUS EN TYD – raak rustig in God se teenwoordigheid, bewustelik
dat Hy teenwoordig is, en beleef die werklikheid daarvan. BID NOU SAAM

3.    LUISTER NA GOD SE WOORD – LEES SAAM NUMERI 6:22-27. Wat beteken die teks op
die oog af vir jou? Ontgin saam die betekenis daarvan. LEES OOK 2 KORINTIëRS 13:13
en gesels saam oor die betekenis daarvan vir jou persoonlik. Wat is die seën van die Here
vir jou?

4.    LUISTER NA MEKAAR EN DIE WêRELD – wat dink jy verstaan die wêreld rondom ons
met die “seën van die Here”? Is die seën van die Here net die goeie dinge wat die Here aan
my gee en vir my doen? Gesels daaroor. Wat moet ek self gaan doen met die “seën van
die Here”? Is die seën van die Here net iets wat ek ontvang, of is dit iets waarmee ek moet
gaan doen?

5.    LUISTER WEER NA GOD SE WOORD – LEES WEER NUMERI 6:22-27. Israel het nie
van Sinai af vertrek sonder die bevestiging van die Here dat Hy saam met hulle die woestyn
in sal trek nie. God verseker deur die seën sy teenwoordigheid by hulle! So openbaar God
se Naam ook sy karakter en dade self. Die seën sê: Ek is by julle! Ek is by julle! Ek is by
julle!  Dit bevestig ook hulle posisie voor die lewende God! Wat beteken dit vir jou om dit te
weet, OOK in jou eie persoonlike lewe? Wat beteken dit ook dat God dit vir die hele
geloofsgemeenskap sê? Drie keer hoor die gelowiges dat God hulle liefhet, hulle sal
beskerm, sy genade met hulle sal wees, Hy sal hoor as hulle roep! Hierdie versekering
moet hulle gerusstel en hulle vertroue in Hom gee! Sowel as innerlike vrede! God verseker
sy teenwoordigheid, al voel dit soms of Hy ver is. God verseker sy guns, voorsiening en
sorg! Sy liefde, redding, en genade. LEES NOU OOK WEER 2 KORINTIëRS 13:13. Hierdie
seën van die Here in Nuwe Testament konteks is volledig en in die Naam van die Drie
enige God! God gee Homself volledig as Vader, Seun en Gees! “DIE GENADE VAN DIE
HERE JESUS CHRISTUS” herinner aan wat Christus vermag het deur sy sterwe en
opstanding. Genade wys op die somtotaal van al Christus se heilsdade vir ons, tot redding
vir elkeen wat glo! As HERE is Hy die Almagtige, as JESUS is Hy die Verlosser, en as
CHRISTUS is Hy die Gesalfde: Koning, Priester, en Profeet. As Koning heers ons nou
saam met Hom in hierdie seën! As Priester tree Hy vir ons in, en gaan dien ons saam met
Hom die mense in die wêreld. As Profeet bring Hy aan ons die Woord van God en gaan
bring ons dit saam met Hom aan die wêreld! “DIE LIEFDE VAN GOD” roep God as bron
van verlossing. Dit is waar God se genade begin, want God is liefde! In sy liefde het Hy sy
Seun ook gegee. Dit is God se liefde wat bewys is aan die kruis en nou aan ons toegesê
word deur God self! En dan gee God ook Homself aan ons in “DIE GEMEENSKAP VAN
DIE HEILIGE GEES” wat ons in ‘n altyd-durende verhouding met God plaas. Die Heilige
Gees wat in ons kom woon en ons lei in die waarheid. Wat ook ons Trooster is, wat vir ons
intree by God, wat ons help om te bid, wat ons toerus om vir God te leef, en ons daagliks
vernuwe om meer en meer die beeld van Jesus te vertoon.

6.    FOKUS OP WAT GOD DOEN – wat moet ons met hierdie seën van die Here in ons eie lewe
gaan doen? En, wat  moet ons met die seën van die Here in die wêreld gaan doen?

7.    ANTWOORD MET GEBED EN MET JOU LEWE HIEROP!!