1. Lief en leed - Deel met mekaar julle lief en leed en wat jou Sondag met die eredienste getref het.

2. Ingenooi in God se rus en tyd - Ons bevind ons tans in die tyd tussen Lydenstyd en Pinkster, die tyd waarin ons Jesus se opstanding vier en uitsien na die verheerliking van Jesus Christus met sy hemelvaart en dan daarna, die uitstorting van die Heilige Gees. Raak rustig in die heilige teenwoordigheid van die Here en erken Hom as Oorwinnaar en Koning!

3. Luister na God se Woord - Lees Romeine 15:1-13 eers in stilte en dan hardop deur. Romeine 15 sluit aan by die tweede deel van die vorige hoofstuk (Romeine 14:13-23). Romeine 14 en 15 gaan o.a. daaroor dat gelowiges mekaar en ander mense NIE MOET/MAG VEROORDEEL NIE!

4. Luister na mekaar en die wêreld – Elke mens het ‘n effek en ‘n invloed op die mense rondom hom/haar. Gesels oor wie jou en wie jy tans / daagliks beïnvloed (werk / verhoudings / geliefdes / medemense) en wie ‘n groot invloed op jou lewe het / gehad het. Deel met mekaar wat dit is van ander mense (naby/ver) wat ‘n verskil in jou lewe maak. Was/is dit ‘n positiewe verskil of nie en hoekom?

5. Luister nou weer na die Woord - Lees weer Romeine 15: 1+2. Die beginsel is dat ons nie selfsugtig op onsself moet fokus nie, maar dat elkeen aan ons naaste moet dink: aan wat vir hom/haar goed is en hom/haar in geloof kan opbou. Dit gaan dus eerstens oor ‘n fokus: Nie op jouself nie, maar omgee/deernis vir ander. Tweedens gaan dit oor geestelike onderskeidingsvermoë van wat vir iemand anders positief is en derdens oor hoe jy iemand anders se verhouding met die Here (geloof) kan opbou!

6. Fokus op wat God doen – God is die Een wat ons gemaak het (Skepper) en ons lewe in stand hou (Onderhouer). Hy is ook die Een wat ons versorg en verlos. Dit doen Hy egter nie t.w.v. onsself nie, maar sodat ons Hom kan eer en in sy Naam ‘n positiewe effek op ander mense (bekend/onbekend) kan he. Dit laat my dink aan die boodskap wat die Potloodmaker aan die potlood gegee het:
1.    Jy is gemaak om ‘n merk te maak! ‘n Invloed uit te oefen. Elke ding wat jy doen, maak ‘n verskil. Jy het die verantwoordelikheid en voorreg om op/in die lewe van ander mense te skryf. 
2.    Jy sal foute maak, maar dit kan reggemaak of uitgevee word [uitveër].God vergewe en maak ons nuut! Dit is hoekom Jesus gekom het.
3.    Jy sal in die lewe skerpmaakprosesse ondergaan – pynlike prosesse, wat van jou ‘n beter potlood maak. Dit louter jou; dit maak jou skerp! Dit maak jou bewus van a. Jou afhanklikheid van God b. Jou eie broosheid en c. Die lief en leed en pyn van jou medemens en geliefdes!
4.    In die skerpmaakproses sal die punt breek en daar baie skaafsels wees wat mors. Moenie op die skaafsels fokus nie. Fokus op jou skryfwerk. God laat ook goed uit sleg voorkom.
5.    Dit is nie jou omstandighede wat jou waarde of betekenis bepaal nie. Dit gaan nie oor jou voorspoed/teenspoed nie. Dit is wat binne jou is wat tel, jou karakter, jou identiteit; wie God jou gemaak het om te wees! Hy bepaal dit!
6.    Hoe meer jy skryf en skerpgemaak word, hoe korter word jy – daar is ‘n tydsduur aan jou lewe/bestaan gekoppel – ons is nie vir altyd hier nie, ons word net aan mekaar geleen!
7.    Hier op aarde skryf ons nog in potlood – dit is nog nie permanent nie, maar wanneer die Here ons kom haal is ons in sy ewige heerlikheid! Lewe hier en nou, maar tot in ewige heerlikheid!
8.    Om die beste potlood te wees wat jy kan en moet, moet jy die hand wat jou vashou toelaat om jou te lei! – Vertrou God die Skepper – die Potloodmaker – Hy skryf deur jou in die lewe van ander mense – jou geliefdes en jou medemens; elkeen wat elke dag oor jou pad kom!

7. Antwoord met ons lewe – Gaan skryf mooi in die lewe van ander mense! Gaan skryf in God se Naam en maak die verskil in jou geliefdes en medemens wat Hy bedoel het jy moet maak!

8. Bid nou saam - Dank God vir wie en hoe Hy jou gemaak het. Vra Hom om jou oë oop te maak sodat jy jou eie broosheid en seer, maar ook ander se pyn en gebrokenheid sal kan raaksien en deernis daarmee kan hê. Vra die Here dat Hy jou deur jou sy Liefde in mense se lewens sal inskryf en jou foute en swakhede sal uitvee! En dat Hy ons sal skerpmaak ook in hierdie Pinkstertyd wat op hande is.