1. Lief en leed
Deel met mekaar julle lief en leed en wat jou die week en Sondag met die eredienste getref het.

2. Ingenooi in God se rus en tyd
Raak rustig en ontspan in die troosryke teenwoordigheid van die Here.

3. Luister na God se Woord
Lees 1 Tessalonisense 5:1-11 eers in stilte en dan hardop deur. Wat gebeur hier? Wat tref jou?

4. Luister na mekaar en die wêreld –
Deel met mekaar hoe julle die wederkoms van Jesus Christus, die wegraping al dan nie en die dood van ‘n gelowige verstaan. Hoe dink verskillende mense en groepe hieroor, en hoe dink jy/julle behoort mense hieroor te dink? Is dit belangrike temas of nie en wat moet ons daarmee maak?

5. Luister nou weer na die Woord
Lees weer 1 Tessalonisense 5:1-11. Dit is ‘n interessante gedeelte wat volg op 1 Tessalonisense 4:13-18 wat gaan oor die dood en die wederkomsverwagting van gelowiges - seer en soms onverstaanbare sake. Miskien kan julle dit ook lees? Dit eindig met ‘n trooswoord. Dan volg 1 Tessalonisense 5:1-11 wat spesifiek handel oor die wederkoms van Jesus Christus en hoe ons hieroor behoort te dink.

Die eerste wat ons moet besef is dat die wederkoms en dood baie in gemeen het: Rondom beide is daar vrae en onsekerheid en beide is ‘n manier waarop Jesus weer kom. Sommige mense glo in ‘n derde manier nl. die wegraping, maar daar is nie genoeg Bybelse getuienis hiervoor nie. Dit is eerder ‘n interpretasie van sommige gelowiges van die dood of die wederkoms en een of twee Bybelgedeeltes.

Die tweede waarheid is dat gelowiges nie bang hoef te wees vir die wederkoms of die dood nie. Dit is juis die rede waarom hierdie en baie ander gedeeltes in die Woord geskryf is. Nie om ons bang te maak nie, maar om ons hoop en troos te gee.

‘n Derde waarskuwing is dat dit [die dood en die wederkoms] onverwags kom. Hieroor is die Bybel baie duidelik – niemand ken die dag en die uur nie, maar dit kom soos ‘n dief in die nag - soos geboortepyne 'n swanger vrou skielik oorval! Die troos is egter dat dit nie iets is om voor bang te wees nie, want “God het ons tog nie bestem om gestraf te word nie, maar om deur ons Here Jesus Christus verlos te word.” (vers 9).

6. Fokus op wat God doen – Die punt is: God kom ons haal. Ons behoort in lewe en in dood aan Hom, en wanneer ons plek voorberei is (Joh. 14) kom Hy ons haal! “Hy het ter wille van ons gesterwe, sodat ons, of ons by sy koms nog lewe of reeds dood is, saam met Hom kan lewe!” (vers 10). Die dood kom dus (waarskynlik) gouer as die wederkoms, maar dit bly God wat ons kom haal! Met die dood kom Hy jou of my spesifiek haal, maar met die wederkoms is daar ook ‘n kosmiese en doksologiese element. Dit beteken dat die ganse skepping dit sal beleef en vertoon en dat Jesus Christus verheerlik sal word as die Koning van die Heelal aan Wie alle mag in die hemel en op die aarde behoort!

7. Antwoord met ons lewe –Hoe moet ons hierop reageer? Ons moet gereed wees. Dit beteken dat ons ‘n geloofskeuse vir God gemaak het en afwagtend lewe, soekend na God se wil, gehoorsaam aan die heerskappy van Jesus Christus. Dit beteken dat ons mekaar ook met vrymoedigheid kan troos en moed inpraat, totdat die Here ons kom haal! Vers 5-8 sê ons is mense van die lig, en daarom moet ons nie geestelik gesproke slaap nie, maar wakker wees en lewe as mense van die lig! Ons lewens moet die drie ononderhandelbare kenmerke van 'n kind van God vertoon nl. geloof, liefde en hoop!

8. Bid nou saam – Buig nou voor die Here en plaas jou sekerheid en troos van hierdie lewe en die dood in die hand van die Here. Glo dat God jou na Hom sal neem wanneer Hy jou kom haal - deur die dood of met die wederkoms, en bid vir mekaar in ons belewenis van die dood en die wederkoms.