1. LIEF EN LEED – deel met mekaar lief en leed vir eer aan die Here, en gebed.
2. INGENOOI IN GOD SE TEENWOORDIGHEID, RUS EN TYD – raak doelbewus rustig in God se teenwoordigheid. Ontspan en rus in Hom. Bid saam vir die geleentheid.
3. LUISTER SAAM NA GOD SE WOORD – Lees JAKOBUS 5:13-20. Wat tref jou dadelik van hierdie gedeelte? Gesels saam daaroor. Gesels ook oor “bid vir mekaar”.
4. LUISTER NA MEKAAR EN DIE WêRELD – ons hoor dikwels in ons daaglikse omgang met mense dat hulle vir mekaar sê: “Ek bid vir jou”. Wat dink jy bedoel hulle daarmee?
5. LEES NOU WEER UIT DIE WOORD – lees weer JAKOBUS 5:13-20. In woorde lê groot krag opgesluit. Wanneer ons vir mekaar sê: “Ek bid vir jou”, lê daar nog baie groter krag daarin. Ons skep by die persoon ‘n groot verwagting ten opsigte van God se ingrype in sy situasie. Ons beloof, by implikasie, om by God in te tree vir die persoon. Ons “betrek” ook die Here daarby omdat ons weet ons bid tot Hom! Ons skep as’t ware, menslik gesproke,ook die verwagting by die Here dat ons vir die persoon by Hom gaan intree. Daarom moet ons mooi dink voordat ons net maklik vir iemand sê: “Ek bid vir jou”. Ons moet dit opreg bedoel, dit met ‘n opregte hart sê, en dit waarlik gaan doen! Daar is min dinge wat so teleurstellend is, as dat iemand vir jou sê “ek bid vir jou”, en jy later uitvind die persoon het dit nie bedoel nie, en dit nie gedoen nie. Die Here wil inderdaad hê ons moet vir mekaar bid!
LEES LUKAS 22:32. Hier sê die Here dat Hy vir Petrus gebid het! As Voorspraak tree die Here ook nog steeds vir ons in by die Vader! Ons kan ook vir mekaar vra om vir mekaar te bid. “Bid asb vir my vir…”
LEES KOL. 4:3 EN 1 TESS. 5:25. Paulus vrá dat daar vir hom en sy medewerkers gebid sal word. Dit is baie goed dat ons vir mekaar vra vir gebede. Dit is ook die Here se wil. So is ons in liefde en omgee by mekaar betrokke. Maar wanneer iemand ons vra om vir hom/haar te bid, of vir iemand of iets anders te bid, en ons sê dat ons dit sal doen, dan moet ons dit inderdaad gaan doen. Dit is ‘n gebedsbelofte wat verwagting skep, by mens en by God! Veral ook in die lig van JAKOBUS 5:16 : “Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.” Ons bid gebede vir mekaar, vir troos, vir krag, vir salwing, vir heling, vir treurendes en mense in fisiese en emosionele pyn. Ons bid gebede vir geloof, en geestelike groei. Gebede vir iemand anders is die grootste liefdesdaad denkbaar! Om te weet iemand bid vir jou bring by jou ‘n vrede en gerustheid. Die gedagte dat daar iemand is, vir wie jy so belangrik is, dat die persoon vir jou bid, bring by jou ‘n kalmte te midde van die storm.
Om vir iemand te bid is ‘n voorreg, maar ook ‘n verantwoordelikheid. Daarom moet ons opreg wees as ons sê “ek bid vir jou”. Jy moet dan regtig vir iemand “in die bres tree”. Lees PSALM 106:23 en ESEG.22:30. Om “in die bres te tree” verwys na ‘n gat in die muur van ‘n ou stadsvesting. Die bres/gat is veroorsaak deur die stormram van vyande wat die stad wil beleër. Om in die bres te tree is om in daardie gat te gaan staan, en die vesting met jou léwe te verdedig! Om vir iemand “in die bres te tree” voor God, staan jy in daardie gat tussen hom en sy omstandighede, en jy pleit vir hom by God!
“Ek gaan vir jou bid”. REGTIG? Bedoel dit as jy dit sê. Gaan doen dit. En beleef SAAM die gebedsverhoring en die seën van die Here daarin!
6. FOKUS OP WAT GOD DOEN – veral aan die hand van Jakobus 5:16. Lees dit weer.
7. BID NOU SAAM, EN VIR MEKAAR, EN GAAN DOEN DIT OOK VIR MEKAAR IN JOU LEWE!