1. Lief en leed
Deel met mekaar julle lief en leed en wat jou die week en Sondag met die eredienste getref het.
2. Ingenooi in God se rus en tyd
Raak rustig en ontspan in die heerlike teenwoordigheid van die Here.
3. Luister na God se Woord
Lees Deuteronomium 30:11-20 eers in stilte en dan hardop deur. Wat tref jou in die gedeelte?
4. Luister na mekaar en die wêreld
Deel met mekaar of julle dink dit is moontlik om te doen wat God vra. Is God se wil en gebooie maklik of moeilik om na te kom. Hoe dink die breër samelewing daaroor? Dink ook na oor die pad wat ons hier in Suid-Afrika sedert 1994 geloop het. Dit is Woensdag munisipale verkiesings wat ons ook dwing om na te dink oor ons verantwoordelikheid en keuses. Moet ons stem of nie? En vir wie?
5. Luister nou weer na die Woord
Lees nou weer Deuteronomium 30:11-20. In die gedeelte praat Moses, die leier van die volk Israel met die volk. Dit is kort voordat sy leierskap na Josua oorgaan. Dit is met ander woorde ‘n afskeidswoord en ‘n terugblik [samevatting] van die leierskap-tyd van Moses. Ons kan nog nie van heerskappy of regering praat nie, want Moses was nie ‘n koning nie.
Moses praat mooi met die volk en herinner hulle aan die sorg en trou van die Here – die Verbonds-God. Hy herinner hulle aan die geskiedenis van Israel en al die seën en straf wat die volk beleef het. Die pad wat God met sy volk geloop het tot hier met al die lief en die leed daarvan.
6. Fokus op wat God doen
Die wonderlike was dat God sy volk bewaar het. Hy het getrou gebly en hulle in hulle voorspoed en teenspoed bygestaan. Hy het vir hulle gesorg en hulle getrou bewaar. En Hy het aan hulle sy wet en gebooie gegee om na te kom. Hierdie gebooie is ook nie moeilik of buite hulle bereik nie – en daarom hou Moses dit namens God weer aan hulle voor: “Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe.” [Vers 19]
7. Antwoord met ons lewe
Wat sê dit vir ons vandag? Dat dit nie onmoontlik of moeilik is om God se wil te gehoorsaam nie, en dat ons ‘n keuse en verantwoordelikheid het. Ons is nie slagoffers van wat in die politiek of in die wêreld gebeur nie, maar kinders van God wat die gawe van die lewe uit God se hand ontvang en daarom die voorreg en verantwoordelikheid het om voluit te lewe en daar waar ons gaan ‘n verskil te maak. Ook om ons te onderwerp aan gesag en selfs in die politiek God se lig te laat skyn.
8. Bid nou saam
Buig nou voor die Here en bring ons nasie en gemeenskap voor die Here. Bid spesifiek ten opsigte van die munisipale verkiesings: vir ‘n vrye en regverdige verkiesingsproses; vir die regte gesindhede van die kandidate; vrede tydens en na die verkiesings, ongeag die uitslag daarvan; vir leiers en landsburgers wat hulle beywer vir geregtigheid, vrede, versoening, verligting van armoede en werkloosheid en vir diensbaarheid, liefde en die aanvaarding van verantwoordelikheid deur alle mense. Vra die Here dat elkeen van ons sy wil sal soek en sy gebooie sal nakom en dank Hom dat Hy altyd getrou bly en nooit die werk van sy hande laat vaar nie!