1. Lief en leed
Deel met mekaar julle lief en leed en wat jou die week en Sondag met die eredienste getref het.
2. Ingenooi in God se rus en tyd
Raak rustig en ontspan in die heerlike teenwoordigheid van die Here.
3. Luister na God se Woord
Lees Matteus 16:13-20 en dan Matteus 16:21-23 eers in stilte en dan hardop deur. Wat tref jou in die twee gedeeltes?
4. Luister na mekaar en die wêreld
Daar is baie sieninge en idees in die wêreld oor wie Jesus is. Sommige weet nie eers van Hom nie. Ander dink Hy was ‘n besondere mens, maar niks meer nie. Die Jodedom beskou Hom as ‘n Rabbi – leermeester - en die Islam beskou Hom as ‘n profeet. Hoe sien jy Hom? Is en was Hy God of mens?
5. Luister nou weer na die Woord
Lees nou weer die twee gedeeltes in Matteus 16:13-20 en Matteus 16:21-23. Daar is ooreenkomste, maar ook ‘n geweldige teenstelling. In beide gedeeltes praat Jesus met sy dissipels – Hy is besig om hulle te onderrig en te help verstaan Wie Hy is en wat Hy kom doen het. Daarvoor gebruik Hy ‘n vraag oor wie ander mense dink Hy is. En dan raak Hy meer persoonlik: Wie sê julle – die dissipels – is Ek?
Die mense praat en wonder oor Jesus. Hulle sê Hy is ‘n profeet, nogal ‘n groot profeet soos Jeremia, of Elia, of Johannes die Doper wat ‘n ruk terug deur Herodes doodgemaak is. Maar Wie is Hy regtig?
En dan kom Petrus met die antwoord: Jesus is die Christus, die Seun van die Lewende God! M.a.w. Jesus is die gestuurde en gesalfde Verlosser van die mensdom, die Een wat sy volk van hulle sondes kom verlos; die een wat die profete voorspel het deur al die eeue, is uiteindelik hier! En Jesus ‘prys’ Petrus – Hy gee hom ‘n kompliment, wat eintlik ‘n regstelling was – ‘dit is nie jy wat so slim is nie, Petrus, God het dit aan jou openbaar’. En dan sê Hy vir Petrus dat hy die rots is op wie Hy sy kerk gaan bou.
6. Fokus op wat God doen
Wat Jesus hier bedoel is dat Hy sy kerk bou op die geloof, die belydenis dat Hy die Christus, God self is – nie op ‘n persoon soos party gelowe (soos die Rooms katolieke Kerk) dink nie. Die tyd het nog nie gekom dat ander mense moet besef Hy is die Christus nie, en daarom verbied Hy sy dissipels om vir ander iets daaroor te sê. Maar Hy gaan voort om sy dissipels te leer wat die implikasies daarvan is dat Hy die Christus, die Messias is. ‘n Deel van die implikasie is dat Hy gevange geneem gaan word, mishandel gaan word en doodgemaak gaan word. En ook weer op die derde dag gaan opstaan. En dan raas Petrus met Jesus. Dit mag nie gebeur nie! En dan word Petrus, die een met die Rots-belydenis, skerp deur Jesus tereggewys. Gaan weg agter My Satan, jy is ‘n struikelblok, want jy soek nie God se wil nie, maar die wil van mense!
7. Antwoord met ons lewe
Ontstellende woorde! En dit is die groot teenstelling tussen die twee gedeeltes. In die eerste bou Jesus op Petrus se belydenis, in die tweede berispe Hy hom en spreek hom bars aan. Die vraag vir ons – bou ons op Jesus as die Rots, die Here, God self; of soek ons ons eie wil of die wil van ander mense? Dit gaan nie oor wat ander mense sê of wil hê nie, maar oor wat God wil!
8. Bid nou saam
Kom ons buig voor die Here en soek sy wil. Wat is sy wil met my en jou? Met sy kerk, met ons land en volk en nasie? Waarop moet ons bou. Wie moet ons gehoorsaam? Vra die Here dat Hy deur sy Gees ons daartoe sal lei. Om sy wil te ken en te doen, nie ons wil nie – soos Jesus later in Getsemane ook sou bid: Nogtans nie My wil nie, maar U wil...