LIEF EN LEED – deel met mekaar vir bemoediging, voorbidding en dankbaarheid.

RAAK RUSTIG IN GOD SE TEENWOORDIGHEID – bid saam en ervaar saam God se teenwoordigheid.

LUISTER NA GOD SE WOORD – lees saam 1 KORINTIëRS 11:23-29. Wat beteken die deel vir jou, so met die eerste oogopslag? Gesels daaroor.

LUISTER NA MEKAAR EN DIE WêRELD – gesels oor wat die NAGMAAL vir jou persoonlik beteken wanneer jy dit gebruik. Met watter boodskap wil jy van die NAGMAAL na die daaglikse lewe gaan?

LUISTER WEER NA DIE WOORD – lees weer 1 KORINTIëRS 11:23-29.

GESELS NOU SAAM OOR DIE VOLGENDE BETEKENISSE VAN DIE NAGMAAL: wat verstaan jy onder selfondersoek voor jy nagmaal gebruik? Is ons die nagmaal “waardig”? Wat beteken regte gesindheid t.o.v die nagmaal?      

KYK NOU NA DIE BETEKENIS VAN DIE NAGMAAL:

DIE NAGMAAL IS ‘N WAARBORG – wat beteken dit vir jou? Gesels daaroor. So seker as wat ons die brood eet en wyn drink, so seker het ons deel aan Christus, sy sterwe, en opstanding!

DIE NAGMAAL IS ‘N VREUGDEFEES – wat beteken dit vir jou? Wat beteken dit dat die vreugde van die ewigheid nou reeds deel moet wees van my lewe?

DIE NAGMAAL IS ‘N FEES VAN DANKBAARHEID – wat beteken dit vir jou persoonlik? Die Heilige Gees verseker ons deur die brood en wyn van die sekerheid van ons redding, en daarvoor is ons oneindig dankbaar! Ons vier ons verlossing in die Here!

DIE NAGMAAL IS ‘N GEMEENSKAPSMAAL – wat beteken dit vir jou? Dit is gemeenskap met die lewende Here, en met mekaar. Ons is saam die huisgesin van God en kan nie kieskeurig wees nie. Soos die Here ons onvoorwaardelik aanvaar, aanvaar ons mekaar onvoorwaardelik.

DIE NAGMAAL IS ‘N GEDAGTENISMAALTYD – waaraan dink jy in die besonder wanneer jy nagmaal gebruik? Ons oordink, herdenk, en verkondig die dood van die Here, en die betekenis daarvan, totdat Hy kom!

DIE NAGMAAL VERKONDIG ONS TOEKOMSVERWAGTING – wat beteken dit vir jou? Met die nagmaal reik jy reeds, met jou lewe wat jy hiér leef, vooruit na jou ewige toekoms saam met die Here! Jy leef nou reeds die sekerheid van jou toekoms saam met die Here!

FOKUS NOU OP DIT WAT GOD DEUR DIE NAGMAAL MET ONS EN VIR ONS DOEN – NB: vat dit vir jouself persoonlik in een sin saam, in ‘n neutedop, en deel dit met die groep.

ANTWOORD MET JOU LEWE – hoe sal jy die betekenis van die nagmaal vir jou persoonlik wil gaan uitleef in die praktyk van jou lewe? Deel dit ook met mekaar.

BID NOU SAAM – na aanleiding van die groepbespreking en ander gebedsversoeke soos deur die groep gedeel.

ADMINISTRASIE – maak seker van diensbeurte en byeenkomste van die groep.