1. Lief en Leed – deel met mekaar julle lief en leed vir bemoediging en voorbidding.

2. Ingenooi in God se rus en tyd – vind rus in God se teenwoordigheid en bid saam.

3. Luister na God se Woord – Lees Josua 1:19 & Hebreers 4:12-13. Joshua staan hier op die grens van ‘n nuwe, avontuurlustige, maar tog kommerwekkende lewe. Die Here het hier vir Joshua sy roeping gegee, en hom opgeroep om as’t ware nou, die skoene wat God vir hom lank reeds te vore voorberei het te vul. Die skoene van bereidwilligheid om nou die paadjie aan te pak wat die Here vir hom uitgelê het as sy roeping. Joshua het onder Moses studeer, toe Moses nog die leier van God se volk was. Josua het saam met hulle al hierdie tye en seisoene deurgesien, geleer, en nou is dit sy beurt om die leisels oor te neem. Josua word nou opgeroep om sy roeping uit te leef, waarvoor hy sy hele lewe lank nog voor voorberei word. Wat sou Josua doen? Sou hy sy roeping gestand doen, en as hy doen, sou hy suksesvol wees?

4. Luister na mekaar en die wêreld – deel met mekaar hoe ek en jy sou optree wanneer ons ‘n roeping ontvang wat ons uit ons gemaksone uitruk, en skielik verandering meebring? Hoe sou jy dit hanteer? Wat dink jy is jou roeping? Hoe dink jy het God jou voorberei daarvoor? Hoe hanteer die wêreld die roeping van God in die wêreld?

5. Luister nou weer na God se Woord – Lees nou weer die gedeelte. Watter beloftes maak God aan Sy kinders in hierdie gedeelte? Wat is die gereedskap wat die Here vir ons voorsien, om ons roepings te vervul? Hoe het dit vir Josua uitgewerk?

6. Fokus op wat God doen – Hierdie gemeente was maar ons leerskool. Hier moes ons eers leer om te gehoorsaam, voordat ons kan begin om te lei. Onthou julle ons leuse een jaar: Ons moet Lei deur eers te Dien. In hierdie tyd was Josua ook half vreesbevange om sulke groot skoene vol te staan, maar dit is hier waar die Here aan hom ‘n belofte kom maak het. Dieselfde een wat Hy aan Moses gemaak het, en dieselfde een wat Hy aan elkeen van julle vandag maak. “Solank jy lewe, sal niemand bestand wees teen jou nie. Soos Ek by Moses was, so sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie. Wees sterk, wees vasberade.”

Elkeen van julle wat hier voor my sit, het ‘n roeping ontvang vanuit die hand van God. Hy roep elkeen van julle op om dit uit te leef. Dit is ‘n gawe. Dit is deur die liefde en genade van God dat Hy ons vertrou het om Hom te help om Sy koninkryk uit te bou. Dit is nie iets wat ons moet vrees nie. Ons weet dat dit nie lekker is om bekendheid en gemak agter te laat nie; maar die essensie is, dat as ons nie die skoene van bereidwilligheid aantrek en vir ander gaan verkondig wat ons hier geleer het nie, sal hulle nie die voorreg hê om te weet hoe dit voel om deel van God se familie te wees soos ons nie. God gee ook nie net ‘n opdrag en sê, nou moet jy dit maak gebeur nie. Nee, God roep ons. Daarna gee Hy ook vir ons nie net instruksies van hoe om dit uit te voer nie; maar Hy stap die pad saam met ons en gee vir ons bemoediging elke dag. Presies soos wat ons gelees het Hy hier met Josua gedoen het. God sal ons hand nooit laat gaan nie. So waar ookal dit is, waarheen jy oppad is, wees vir seker in een ding vandag, God gaan saam met jou.

7. Antwoord met jou lewe – Ons kan nou met sekerheid weet dat dit die Here is wat ons lewens lei en inrig. God het ons vir ‘n doel geskape, en lei ons ons heel lewe nog op om dit uit te voer. Ons kan ook berus in die feit dat die Here nie die onmoontlike van ons vra nie, maar elke stap van daardie weg dit saam met ons deursien. Hy gee vir ons die gereedskap en bemoediging wat ons gaan nodig he om dit te vervolmaak. Ons weet ook dat alles wat ons van hier af deursien, alles is vir die koninkryk van God. Ons kan opgewonde wees, dat ons ‘n rol kan speel in God se groot heerlikheidsplan. Sal jy jou skoene van bereidwilligheid aantrek?

8. Bid nou saam! Kom ons dank nou die Here vir Sy oneindige liefde en genade. Dat Hy ons met soveel liefde geskape het, om vir ons elkeen ‘n persoonlike roeping te skep; om deel te hê aan Sy koninkryk. Kom ons dank God vir die gawes en talente wat Hy aan ons elkeen toebedeel het. Dat Hy betrokke is in ons gemeente, en ons met soveel rykheid geseën het. Dank die Here vir jou persoonlike verhouding met Hom. Kom ons vra Hom om ons van die oomblik af te help, om ons op die regte paaie te lei, en ons lewens van hier af in te rig.