1. Lief en leed

Deel met mekaar julle lief en leed en wat jou die week en Sondag met die eredienste getref het.

2. Ingenooi in God se rus en tyd

Raak rustig en ontspan in die heerlike teenwoordigheid van die Here.

3. Luister na God se Woord

Lees 1 Petrus 1:13-21 eers in stilte en dan hardop deur. Wat tref jou in hierdie gedeelte?

4. Luister na mekaar en die wêreld

Daar is baie sieninge en idees in die wêreld oor heiligheid. Wat dink julle beteken dit om heilig te wees – of om ‘n heilige te wees. So ruk terug het die Roomse kerk moeder Teresa as ‘n heilige verklaar. Sy het haar lewe lank opheffingswerk in Indië – Calcutta gedoen; ‘n formidabele mens. En nou is sy ‘n ‘heilige’ saam met mense soos Franciskus van Assisi en ander. Deel van die vereiste om as ‘n heilige verklaar te word, is dat jy ten minste twee wonderwerke moes doen in jou lewe en natuurlik reeds oorlede moet wees.

5. Luister nou weer na die Woord

1 Petrus 1:13-21 praat ook oor heiligheid; ‘n oproep om heilig te lewe. Hier gaan dit oor ‘n lewende lewenswyse wat pas by ‘n kind van God, op grond van God aan Wie ons behoort se heiligheid. Om heilig te wees, beteken om afgesonder te wees, toegewy aan God. Om gehoorsaam God se wil te soek en uit te leef en nie ons eie begeertes nie. Daarby bely ons gereeld dat ons glo in die gemeenskap van die heiliges.

6. Fokus op wat God doen

Beteken dit dat ons volmaak is of moet dink dat ons sonder foute is? Nee, dit beteken dat ons soos Petrus skryf, losgekoop is met die bloed van die Lam Jesus Christus. Dat Hy ons vrygekoop maar ook skoongewas het. Daarom is ons ‘vreemdelinge’ in hierdie wêreld – heiliges! En ons hoef nie iets besonders te doen of wonders te verrig nie – ons is heilig want God is heilig en Hy het ons heilig gemaak! Ons leef in die gemeenskap van heiliges!

7. Antwoord met ons lewe

Dit is wonderlik om aan God te behoort en vir Hom Vader te kan sê! Dit is heerlik om vrygekoop en vergewe te wees deur die verlossing van ons Here Jesus Christus, en om rein en skoongewas te wees deur sy bloed – daarom is ons lewende heiliges! Maar dan moet ons ook so gaan lewe – ‘n lewe toegewy aan God, ‘n lewe wat met woord en daad vertel dat Hy Koning is en dat ons in sy naam diens lewer en goed doen. Nie sodat Hy ons kan red nie, maar omdat Hy ons gered het!

8. Bid nou saam

Kom ons buig voor die Here en dank Hom dat Hy sy heiligheid ons toereken. Vra Hom dat Hy ons sal help om tot eer van sy Naam te lewe!