1. DEEL LIEF EN LEED MET MEKAAR – met die oog op voorbidding en ondersteuning vir mekaar
2. INGENOOI IN GOD SE RUS EN TYD – vind rus in Sy teenwoordigheid, word bewus van Sy nabyheid en bid saam.
3. LUISTER NA GOD SE WOORD – Lees Johannes 1:1 – 18 aandagtig deur. Wat sê hierdie stuk vir jou persoonlik? Deel in jou groep julle indruk rondom hierdie gedeelte met mekaar. Wat beteken dit vir ons as nietige mense dat Jesus self sê Hy het Mens geword en onder ons kom woon? Wat ‘n voorreg is dit vir ons as volgelinge van Jesus om te weet dat wanneer ons Hom aangeneem het, ons die reg het om Sy kinders genoem te word! Johannes vertel hier ‘n indrukwekkende troos maar tog ook hartseer waarheid. Hy is gestuur om te verkondig van die Lig wat aankom is na die wêreld toe. Daar het baie mense deur Johannes tot geloof in Jesus gekom, maar tog het Sy eie mense Hom nie aangeneem nie. Jesus se eie mense het Hom verwerp. Gesels in jou groep oor hoe ons vandag, soos Johannes kan wees om in ons onmiddelike omgewing te gaan vertel van Jesus, die Seun van God, wat Mens geword en onder ons, ja selfs binne ons, kom woon het. Al wat ons (jy) moet doen is om Hom aan te neem, lief te hê met jou hele hart en al jou verstand.
4. LUISTER NA MEKAAR EN DIE WêRELD – elke dag gebruik ons woorde. Woorde om uitdrukking te gee aan goed soos ons gevoelens, ons behoeftes en om dinge te laat gebeur. Gesels nou oor die mag van “woorde”, en die effek daarvan in ons lewens. Het iemand al seermaak woorde vir jou of jy vir iemand gesê? Hoe het jy gevoel daaroor en hoe kan ons altyd reageer soos Jesus sou wou hê?
5. LUISTER NOU WEER NA GOD SE WOORD – in Johannes 1:1 – 4 hoor ons dat Jesus die Woord onder ons kom woon het, hoe verstaan ons dit? Watter effek het dit op jou lewe?
6. FOKUS OP WAT GOD DOEN – deur die Woord (Jesus) verseker God ons dat ons nooit alleen sal wees nie, dat Jesus in ons is, dat ons een met Hom is en kan wees. Wat maak jy daarmee?
7. ANTWOORD MET ONS LEWE – Laat ons leef as kinders van God in wie Sy Woord lewendig is en woon. Gaan verkondig dit!
8. BID NOU SAAM oor dit waarin die Heilige Gees julle lei.
MAG ELKEEN ‘n GESEëNDE WEEK BELEEF BEWUS VAN GOD SE NABYHEID.