1.    LIEF EN LEED – deel met mekaaar uit julle lewe vir danksegging, lof aan God, en voorbidding.

2.    INGENOOI IN GOD SE TEENWOORDIGHEID – raak doelbewus stil by die Here en bid saam.

3.    LUISTER SAAM NA GOD SE WOORD – LEES HEBREëRS 12:1-3 EN 1 TIMOTEUS 6:12 – deel met mekaar wat jou met die eerste oogopslag tref uit hierdie gedeelte.

4.    LUISTER NA MEKAAR EN DIE WêRELD – dit is dikwels nie maklik om jou geloof in die wêreld uit te leef en daarin te volhard nie. Wat maak dit vir ons moeilik? Hoe kan ons geloof sterker uitgeleef word in die wêreld ten spyte van terugslae? Hoe kan ons mekaar help?

5.    LEES WEER DIE SKRIFGEDEELTES BY PUNT 3 – ontgin saam die gedeelte en gesels saam oor kernwoorde wat ons help om ons geloof in die wêreld uit te leef. Woorde soos: gooi elke las af! Wat kan laste wees in die uitleef van ons geloof? Die sonde wat ons maklik verstrik. Wat beteken woorde soos “wedloop”, “volharding”, “hardloop”, “oog gevestig op Jesus” vir jou? VOLHARDING is ‘n kernwoord in die gedeelte. Om end-uit-aan-te-hou! Selfs teen die stroom in! Wat/Wie laat ons volhard in ons geloof? Op Wie moet ons die oog hou? Jesus! – die Begin en Voleinder van geloof! Hou jou oog op Hom! Wees geanker in Hom! Dan sal elke wind of golf van die lewe jou nie heen en weer slinger nie. (EF. 4:14) Jou geloof is dan nie afhanklik van, en word nie beïnvloed deur die wisselende omstandighede van die lewe nie. Jou geloof lê diep in die Here geanker. Die Begin en Voleinder van jou geloof! Hou jou oog op Hom! Altyd! Leef wat jy glo en aan die Here beloof! ONTHOU: ons glo en leef nie ter wille van onsself nie, maar ter wille van die Here! Ons volg nie die Here ter wille van onsself nie, maar ter wille van Hom! Daarom moet ons die koste daarvan bereken om die Here te volg. Ons volg die Here om saam met Hom te gaan, waar hy ons ookal heen lei, nie sodat Hy saam met ons moet gaan nie. Daarom moet jy gaan leef wat jy glo, en bely, en beloof. As dit oor jouself gaan, sal jy nie kan volhard nie. Jy kán volhard, want die Here het klaar alle magte oorwin wat jou daarvan wil weerhou. Jy kán al jou kragte inspan (1 Tim 6:12), want jou krag lê in God! Hebreërs 12:3 sê ons moet die Here voor oë hou, dan sal ons nie geestelik moeg word en uitsak nie! Hou die oog gevestig op Jesus! Alles, ALLES, gaan oor HOM! Net soos wat geloof ‘n gawe van God is, is volhardende geloof ook ‘n gawe van God. Jy kan nie uit jouself nie! Hou jou oog voortdurend op Hom! MAAR NOU: die beste atlete val ook! Wat dan? Hou STEEDS jou oog op Jesus! Wanneer jy val, bely jou sonde, met opregte berou, met opregte geloof dat die Here dit wil vergewe, en inderdaad ook doen! Hy tel jou op! Hy laat jou voortgaan met die wedloop! Hou steeds jou oog op HOM! Hy sal jou laat klaarmaak! Hy is die Voleinder van jou geloof! Mislukking is ‘n gebeurtenis. Dit is nie jy wat ‘n mislukking is nie! Jy is ‘n kind van die Here! Wat is die uiteinde van die wedloop? VREUGDE!!! Lees weer Heb. 12:2 “Ter wille van die VREUGDE wat vir Hom in die vooruitsig was….” het Jesus die wedloop tot aan die einde gehardloop!! Nie die kruis, of die skande daarvan, het Hom laat terugdeins nie, sê vers 2, en Hy sit nou aan die regterhand van God! OORWINNEND! Dit is ook dié vreugde waarna ons op pad is en wat NOU reeds deel van ons oorwinning in Christus is! Daarom kan ons volhard….tot die einde toe! Hou HOM voor oë! VOLHARD MET JOU OOG GEVESTIG OP HOM!

6.    FOKUS OP WAT GOD DOEN – Hy begin jou geloof! Hy voleindig dit! Jesus is die Begin en Voleinder daarvan! Hy roep jou daartoe! Hy gee jou die geloof en die krag, om nie moeg te word en uit te sak nie! Hy laat jou die goeie belydenis voor baie aflê! Hy gee die vreugde!!

7.    BID NOU SAAM – noem spesifieke waarhede uit die boodskap waarvoor julle saam wil bid.