1. Lief en leed -Deel met mekaar julle lief en leed asook wat jou Sondag met die eredienste getref het.

2. Ingenooi in God se rus en tyd – Wanneer ons stil word in Stiltetyd of ‘n erediens, is dit nie om God te nooi om by ons te wees nie, maar eerder die erkenning dat ons in God se teenwoordigheid is! Hy is klaar hier! Hy nooi ons in sy teenwoordigheid in. Trouens, ons leef elke oomblik Coram Deo – voor die aangesig van God, m.a.w. in sy teenwoordigheid! Dit word ook onder andere deur die doop gesimboliseer – God se ewige en voortdurende teenwoordigheid by sy kinders. Sy teenwoordigheid impliseer sy heiligheid, maar ook sy genade!

3. Luister na God se Woord - Lees Matteus 28:16-20 eers in stilte deur. Vra iemand nou om dit hardop vir die groep voor te lees. Waaroor gaan dit hier? Ons lees o.a. van Jesus se versekering en opdrag net voor sy hemelvaart, asook van die dissipels se reaksie van geloof en twyfel. Hy verseker sy dissipels van sy teenwoordigheid en heerskappy en beveel hulle om mense sy dissipels te gaan maak, deur hulle te doop en dan te leer om Hom te gehoorsaam. Dit is die opdrag van Jesus ook aan ouers ten opsigte van hulle kinders.

4. Luister na mekaar en die wêreld – Dink na en gesels oor verskillende maniere om na die doop te kyk. Verskillende kerke/denominasies het verskillende perspektiewe op die doop. Party word vasgehou deur die verbondsdoop, ander hou vas aan die belydenisdoop. Sommige noem dit ‘kinderdoop’ of ‘grootdoop’ en ‘besprinkeling’ of ‘onderdompeling’. Deel met mekaar hoe julle hierdie verskillende benaderings verstaan. Hoe verskil die maniere van doop, asook die verskillende beskouinge? Hoe dink jy oor die doop? Is die doop iets om oor te stry en baklei, of is dit iets om oor bly te wees? Hoe help Hebreërs 6:1-3 ons hiermee?

5. Luister nou weer na die Woord - Lees nou Jesaja 44:1-8. Wat tref julle in die gedeelte? In die gedeelte gaan dit oor die Almagtige God wat die Eerste en die Laaste is. Naas Hom is daar geen ander God/e nie! En Hy skep en kies sy kinders uit genade en belowe Homself aan hulle! Gaan kyk gerus in die vorige vier hoofstukke hoe God op verskillende maniere vir sy volk sê dat Hy hulle geskep het, dat Hy hulle uitgekies het, dat Hy hulle liefhet, vashou en versorg. Dit is alles uitsprake wat gaan oor God se verbond. ‘n Verbond van genade! Ek en jy vier vandag nog hierdie liefdesooreenkoms met die doop – ‘n teken dat God ons genadig is, en dan spesifiek met die verbondsdoop, wat sê dat God nie wag totdat ek en jy op sy liefde antwoord nie, maar dat Hy ons van die begin af gekies het en geroep het om aan Hom te behoort! Natuurlik moet ons met geloof (bekering) en met ons getuienis (belydenisaflegging) en gehoorsaamheid (ons hele lewe) reageer op sy genade. God weerhou sy genade egter nie, totdat ons eendag reageer nie! Baie mense sê tong in die kies dat ‘ons in die era (tyd) van gehoorsame ouers leef’ - ouers wat na hulle kinders se pype ronddans. Ons is egter veronderstel om in gehoorsaamheid teenoor God te reageer! Daarom is ‘n lewe van gehoorsaamheid die enigste gepaste reaksie op God se genade wat Hy in sy Woord en met ons doop aan ons belowe!

6. Fokus op wat God doen – Sê vir God dankie dat Hy Homself in die eerste plek in die doop aan ons en ons kinders belowe. Die doop is primêr ‘n teken van God se genade aan mense. God verbind Homself aan ‘n babatjie of ‘n kind voordat hy/sy nog kan antwoord. Hy wag nie tot ek of jy gereed is, of volkome verstaan nie, maar is eintlik al met ons besig van die oomblik van konsepsie (van voor geboorte) af. En dan nooi Hy ons om te antwoord op sy genade en liefde. Daarom aanvaar ouers ‘n goddelike verantwoordelikheid namens hulle kinders. Om hulle Jesus se dissipels te maak en hulle te leer om alles te onderhou wat Hy ons geleer het!

7. Antwoord met ons lewe – Erken dan ook God se eis om gehoorsaamheid. Dat jy nie maar net God se liefde en genade kan aanvaar en dan leef soos jy wil nie. Hy is die Eerste en die Laaste – die Almagtige. En Hy eis onverdeelde trou en gehoorsaamheid aan Hom – ook in die manier waarop ons ons kinders grootmaak. God se verbond bou dus nie op die inisiatief van mense nie, maar op God self.

8. Bid nou saam

  • Erken God Drie-enig as die Almagtige, die Skepper, die Eerste en die Laaste!
  • Dank God vir sy sorg en dat Hy ons van jongs af bewaar, leer en versorg.
  • Dank God vir die sakrament van die doop – waarmee Hy ons herinner aan sy liefde en genade.
  • Gee jouself aan God en onderneem om Hom in die eerste plek te gehoorsaam.
  • Bid vir die kinders wat Sondag gedoop is én hulle ouers en grootouers: Dank God dat Hy Homself aan hulle (soos aan jou en my) verbind en bid dat hulle in reaksie God sal leer ken, liefhê en gehoorsaam!