1.    LIEF EN LEED – deel met mekaar lief en leed, en ook jou belewenis van Sondag se
LOFOFFER erediens.

2.    INGENOOI IN GOD SE RUS EN TEENWOORDIGHEID – raak doelbewus rustig in God se teenwoordigheid , en bid saam vir die geleentheid.

3.    LUISTER NA GOD SE WOORD – LEES Hosea 6:6, Habakuk 3:17-18, Psalm 37:3-6, Psalm 116:12, 14, 17 en Hebreërs 13:15-16. Wat tref jou van hierdie tekste?

4.    LUISTER NA MEKAAR EN DIE WêRELD – gesels saam oor hoe ons in die wêreld ons LOF AS OFFER AAN GOD uitleef. Wat maak dat ons so min lof aan God leef en getuig? Hoe beleef die wêreld dit as ons lof aan God leef en getuig? Hoe moet ons daarop reageer?

5.    LUISTER NOU WEER NA DIE WOORD – LEES NOU PSALM 43. LEES WEER VERS 4. –
by die altaar van God, is God aanbid, is daar vir God geoffer, en daar het daar inderdaad
bloed gevloei. Bloed ter wille van versoening van sonde. Uiteindelik is die volmaakte altaar
van God by Golgota, aan die KRUIS! Om in te gaan na die altaar van God is nie goedkoop
nie. Dit kom ook nie sonder jou eie verbryseling nie. Vreugde, en lof aan God, kom nie
goedkoop nie. God betaal daarvoor, met die offer van sy Seun aan die altaar van die kruis.
Daar is dus geen blywende vreugde en lof, sonder die altaar van God by die kruis nie. Die
skrywer van Psalm 43 moes ook eers by die altaar verbrysel word, en deur donker
omstandighede gaan. Verse 2 en 5 praat van sy vertwyfeling in God. LEES VERSE 2 EN 5.
Vers 5 se tweede deel bars egter oop in belydenis van VREUGDE! Daarom die versugting van
vers 4: “LAAT MY INGAAN NA DIE ALTAAR VAN GOD….DIE GOD OOR WIE EK WIL
JUBEL EN JUIG…” Hierdie VREUGDE kan alleen in God gevind word. VREUGDE OOR
GOD. VREUGDE IN GOD. VREUGDE MET GOD. Vreugde in God kan nooit van jou
weggeneem word nie. God gee dit! Daarom kan jy soos PSALM 43:4 na God se altaar toe
gaan met jou LOFOFFER! En die res van die Psalm sê dit is moontlik, ten spyte van die
haglikste omstandighede! Al is jy hoe in vertwyfeling, volgens vers 5, en voel dit selfs vir jou of
God jou verstoot, volgens vers 2, al loop die trane oor jou wange, jy kan steeds ingaan na die
altaar van God met jou LOFOFFER! Dit is nie oppervlakkig nie. dikwels loop lof en vreugde en
hartseer deurmekaar, ook in die trane oor jou wange! Want die VREUGDE van God loop
saam met die HARTSEER van die kruis! Die skrywer van Psalm 43 moes met hartseer en lof
ingaan na die altaar van God, maar uiteindelik juis om ‘n LOFOFFER te bring. Daar is geen
vreugde moontlik sonder die altaar van Jesus se kruis nie! Vandag haal die God van vreugde
ons weer in, met sy vreugde oor ons! En dit laat ons met die smagting, soos die
Psalmskrywer, om met ons LOFOFFER in te gaan na die altaar van God! Vers 4 sê dit. Ons
kan nie anders nie! Want ons het VREUGDE OOR GOD, en VREUGDE IN GOD, en
VREUGDE MET GOD! Lees nou ROMEINE 12:1. GEE NOU JOUSELF AS LEWENDE EN
HEILIGE OFFER AAN GOD. GEE JOUSELF AS LOFOFFER AAN GOD !!

6.    FOKUS OP WAT GOD DOEN – gesels saam oor die verse in Psalm 43 wat beklemtoon wat God doen, en wat dit vir ons moontlik maak om ‘n lewe as LOFOFFER aan Hom te gee!

7.    ANTWOORD MET JOU LEWE – hoe kan ons ons offer van lof aan God gaan lewe in hierdie wêreld!?

8.    BID NOU SAAM – vir lief en leed, en soos die Heilige Gees lei, na aanleiding van Psalm 43.