1.    LIEF EN LEED – deel met mekaar lief en leed, vir danksegging, voorbidding en bemoediging.

2.    INGENOOI IN GOD SE RUS EN TEENWOORDIGHEID – raak doelbewus rustig in God se teenwoordigheid, en bid saam vir die geleentheid.

3.    LUISTER NA GOD SE WOORD – LEES HANDELINGE 2:22-28. Petrus verduidelik in sy toespraak wat God in Christus gedoen het. En dan haal hy in verse 25-28 aan uit Psalm 16, om ons blydskap oor God se verlossing in Christus te beklemtoon. GESELS SAAM oor ons vreugde en blydskap in Christus, soos Petrus dit beklemtoon met verse 25-28.

4.    LUISTER NA MEKAAR EN DIE WêRELD – lees weer verse 25-28. Wat beteken vers 25 vir ons, in die praktyk van die wêreld waarin ons leef? En wat beteken vers 28 in die praktyk van ons lewe? Hoe kan ons dit getuig in woord en daad?

5.    LUISTER NOU WEER NA DIE WOORD – LEES LUKAS 14:15-24. Die eerste en die laaste woorde wat ons oor die koninkryk van God kan sê is : VREUGDE IN DIE HERE! Die intense vreugde wat ons daarin het dat God in ons lewens teenwoordig is! Lees weer Handelinge 2:28 saam! God se teenwoordigheid vul ons met vreugde! Die treffende waarheid van vreugde, is dat God ook vreugde oor ons het! LEES SAAM Sefanja 3:17! Dit sê God is BY JOU, teenwoordig, en Hy is VOL VREUGDE OOR JOU, en Hy jubel en juig oor jou! Geen wonder dat die nagmaal inderdaad ‘n vreugdefees is, wat ons saam met God en mekaar vier! Die gelykenis van LUKAS 14 wil ons uitnooi na God se vreugdefees. Die grootste fees wat ons kan vier, is die koninkryksfees wat ons saam met die Here in vreugde vier. Ons vreugde in God oor ons verlossing in Christus! Selfs as ons dan in dankbaarheid vir ons verlossing God se wil uitleef, vind ons vreugde daarin om aan God gehoorsaam te wees! Romeine 7:22 sê: “Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God!” Erma Bombeck sê hieroor: “God is nie by jou teenwoordig om jou rég of wég te werk nie, maar om sy arm van genade om jou te sit, sodat jy in sy teenwoordigheid vreugde ervaar.” Herontdek die vreugde van God se teenwoordigheid in jou lewe! LEES NOU WEER LUKAS 14:15. Neem jy waarlik met vreugde deel aan die fees van die Here? Spesifiek ook die nagmaal? Vers 17 van die gelykenis se boodskap is dringend: “Kom! Die maaltyd staan klaar!” En dan staan die groot MAAR van vers 18 daar: “MAAR hulle begin almal die een na die ander verskoning maak…” Goeie verskonings op die oog af. Maar uiteindelik beklemtoon dit dat ons eiebelang die struikelblok geword het om ons vreugde in die Here te vind en te ervaar! Ons soek vreugde in die dien van onsself. Die gasheer se reaksie op die verskonings is een van die mooiste woorde in die Bybel: GAAN UIT…! ..vers 21, en weer in vers 23: GAAN UIT…! Gaan haal mense wat smag na die vreugde van God, sodat hulle kan inkom en God se vreugde ervaar! God wil geen leë plekke aan sy feesmaal hê nie! NB: God se geesdrif en sy vreugde om die evangelie van verlossing met mense te deel, is groter as die verskonings van hulle wat reeds genooi is, en belangstelling verloor het. JY IS ‘N GENOOIDE, om in die teenwoordigheid van God, saam met Hom, te leef in sy vreugde! Waar is jy? Kan jy saam met Handelinge 2:28 sê: “Here, U teenwoordigheid sal my met vreugde vul!” Lééf in God se vreugde! DIT IS EVANGELIE!

6.    FOKUS OP WAT GOD DOEN – LEES WEER HANDELINGE 2:22-24. Dit is wat God doen!

7.    ANTWOORD MET JOU LEWE – LEES HANDELINGE 22:25-28, en antwoord só met jou lewe!

8.    BID NOU SAAM – deel gebedsversoeke, en bid ook na aanleiding van die bogenoemde gesprek.1