1. LIEF EN LEED – deel met mekaar jul lief en leed vir voorbidding en ondersteuning.
2. INGENOOI IN GOD SE RUS EN TYD – raak stil in God se teenwoordigheid en bid saam vir sy seën op die byeenkoms. LEES nou Psalm 139:1-6 en 13-18. Die Here sê dat Hy alles van ons weet. Hy het ons gevorm in die moederskoot. Vers 14 sê hy het ons op ‘n wonderbaarlike wyse geskep. Hierdie wete laat mens mooi dink oor wie jy is, en hoe jy leef. Gesels daaroor!
3. LUISTER NA GOD SE WOORD – LEES nou Jeremia 18:1-12. Wat tref jou met die eerste lees van hierdie gedeelte? Deel dit met mekaar. AGTERGROND: Jeremia treë in die moeilike tyd as profeet op toe Babel die ander nasies begin plattrap het. Hulle hou ‘n ernstige bedreiging vir Juda in. Jeremia treë op teen die oppervlakkige godsdiens en die vormgodsdiens van die volk. Hy roep hulle op tot persoonlike bekering! Die vals profete verkondig vrede en voorspoed, maar Jeremia het die roeping van God gehad dat hy moes afbreek, uitroei, vernietig, platslaan en bou en vestig. (1:10). Hy verkondig nie sy boodskap nie, maar God se boodskap. IN ONS TEKS, 18:1-12, stuur God hom na ‘n pottebakker. Hy moet by hom staan sodat hy kan verstaan wat God vir hom oor die volk wil sê. Die pottebakker maak iets wat nie wil werk nie, en hy gooi nie die klei weg nie, maar maak iets anders soos hy dit wou hê (vers 4). Hy begin met dieselfde klei van voor af! So is dit ook in die verhouding tussen God en die volk. Hy is met ons vorming besig. Hy kon ons in die sonde los. Of Hy kon ons vernietig en eenkant gooi. Of Hy kan met dieselfde klei ‘n nuwe skepping maak! Herskepping! Hy druk die klei inmekaar om dit te hervorm, en nie om dit weg te gooi nie. Hy wil met die volk, en met ons, oor begin. Vers 7 sê dat Hy die nasie sal afbreek, sal uitroei, sal vernietig. MAAR, sê vers 8, “wanneer die nasie hom bekeer van sy boosheid waaroor Ek hom wou straf, sien Ek af van die straf wat Ek oor hom wou bring.” Vers 9 sê dan sal God die nasie en die koninkryk bou en vestig. Soos die volk, is ons ook ons eie grootste vyand. Ons is ook besig met oppervlakkige godsdiens en vormgodsdiens. Is ons nog vormbare klei in die hand van die Pottebakker!? As ons nie vormbaar is vir God se nuwe skepping nie, dan word vers 10 waar: ”Maar wanneer hy doen wat verkeerd is in my oë en ongehoorsaam is aan my, sien Ek af van die goeie wat Ek aan hom wou doen.” Vers 11 se tweede deel is daarom ontsaglik belangrik: “Elkeen moet hom van sy verkeerde lewe bekeer. Maak julle lewe en julle dade reg.” Dan skep en vorm die Here ons nuut ! Die volk het dit geweier, sê vers 12. Gaan ons dit ook weier? So ‘n houding lei tot vernietiging. Lees 19:1-2 en 10-11. Die Here wil egter ons nuut vorm, om Sy intrek in ons te neem! Hy wil selfs Sy skat in ons stoor! Lees 2 Korintiërs 4:7.
4. LUISTER NA MEKAAR EN DIE WêRELD – die wêreld verkondig luidkeels “elkeen vir homself”, en “dit is my reg”. Mense volg hul eie begeertes en leef in sonde. Verskil ons van die volk hier in Jeremia? Ook ons sal hierdie boodskap moet hoor en verander! Ons moet ons lewe en ons dade regmaak, sê vers 11!
5. LUISTER WEER NA DIE WOORD – dink weer daaroor na dat jy vormbare klei in God se hand is. Wat sê hierdie gedeelte vir jou persoonlik? Wat moet jy gaan doen? Watter verse praat met jou persoonlik?
6. FOKUS OP WAT GOD VIR JOU WIL DOEN - God weet alles van jou! God wil jou hervorm, soos klei in sy hand! Lê jou lewe voor hom neer! BID: “Vorm my en maak my net soos U wil!”
7. ANTWOORD MET JOU LEWE – gaan leef nou die lewe waar jou lewe en dade reg is – vers 11.