1. LIEF EN LEED – deel met mekaar lief en leed vir danksegging, voorbidding en bemoediging.
2. INGENOOI IN GOD SE TEENWOORDIGHEID – ons leef deurentyd in God se teenwoordigheid. Raak nou doelbewus daarvan bewus en bid saam.
3. LUISTER NA GOD SE WOORD – LEES DIE HELE EKSODUS 14 RUSTIG SAAM DEUR. Wat tref jou met die eerste oogopslag van hierdie hele gebeure? GESELS SAAM DAAROOR.
4. LUISTER NOU WEER NA DIE WOORD – LEES NOU NET EKSODUS 14 verse 4, 13-14, 17-18, 25 se laaste deel, en vers 31.
GESELS NOU EERS SAAM daaroor voordat julle verder lees!! Wat tref jou?
Ons kom ook, soos die Israeliete, in ‘n situasie van wanhoop! Hooploosheid!
Ons moet egter besef…WAAR GOD IS, IS HOOP! En God is by mý!
In Eksodus 14 is Israel in die moeder van alle doodloopstrate! Ons sien in hul reaksie totale hooploosheid. Die Egiptenare agtervolg en jaag hulle, en voor hulle lê nou die Rietsee. Hulle het geen uitkomkans nie. Hulle kyk die dood in die oë. Vasgevang. Hooploos. Uitsigloos. Met alles wie hulle is en wat hulle het. Almal en alles gaan vernietig word. Die moeder van doodloopstrate waarin die volk en elke individu van die volk nog ooit was.
NOU: WAAR IS GOD!?
Is hulle regtig in ‘n doodloopstraat? Want God is hiér, by hulle. Hoeveel keer het Hy dit nou al tot hier bewys? Dit is nou hier waar die mooi Engelse uitdrukking ter sprake kom:
“TO LET GO….AND TO LET GOD” . LAAT LOS….EN LAAT GOD!
Moses sê dit nou vir hulle per implikasie met vers 13-14: “Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenaars nou daar sien, sal julle hulle nooit weer sien nie. Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.”
Hulle moet net 4 dinge doen: * Moenie bang wees nie. * Staan vas. * Kyk na die Here. * Bly kalm. En kyk wat gebeur: God wat die Skepper is, maak met die natuurkragte wat Hy wil! Hy is immers die Skepper van die hemel en die aarde. Hierdie geloof en belydenis, vra die eerste vers van die Bybel, Genesis 1:1, alreeds van jou. Sal Hy jou dan nie juis kan help in jou doodloopstraat nie!? Die Egiptenare besef nou skielik hulle het met die ware God te doen! In vers 4 het God al gesê “Egipte sal besef dat Ek die Here is.” En in vers 25 sê die Egiptenare nou: “Ons moet wegkom van die Israeliete af, want die Here veg vir hulle…” Ons moet besef:
Ook in ons doodloopstraat gaan dit daaroor dat die Here God is! Weer en weer beklemtoon die Bybel dit. Elke keer as dit in die Bybel oorvertel word bevestig dit * dat die Here die enigste God is, * dat geen krisis van ons vir Hom te groot is nie, * en dat Hy die Bron van al ons hoop is! Dit geld jou hele persoonlike lewe en elke doodloopstraat waarin jy ooit kan beland! Jy is nie skielik probleemvry nie. Maar God stuur jou lewe, ter wille van sy koninkryk en sy eer! Dit gaan nie oor jou en dat Hy net daar is om jóú paaie gelyk te maak nie. Alreeds by die kruis het God jou gered uit die moeder van alle doodloopstrate! Nou het jy ‘n lewende hoop, sê 1 Pet. 1:3. Gaan doen 4 dinge: 1. Moenie bang wees nie. 2. Staan vas. 3. Kyk na die Here, wat vir jou veg. 4. Bly kalm. LAAT LOS…en LAAT GOD! Die Here sê vir jou: “TRUST MY INTEGRITY, TO HOLD YOU UP BY GRACE”
5. GAAN ANTWOORD MET JOU LEWE HIEROP – hoe kan ons dit gaan doen?
6. BID NOU SAAM DAARVOOR