1. Lief en leed
Deel met mekaar julle lief en leed en wat jou die week en met Sondag se erediens getref het; ook hoe julle die afgelope Kerssangdiens(te) beleef het. Oor bietjie meer as ‘n maand is die Kersfees!

2. Ingenooi in God se rus en tyd
Raak rustig en ontspan in die heerlike teenwoordigheid van die Here.

3. Luister na God se Woord
Lees Genesis 15:1-18 in stilte ‘n eerste maal deur. Daarna kan iemand dit hardop voorlees.

4. Luister na mekaar en die wêreld
Teleurstelling is deel van die lewe en elke mens ken teleurstelling. Deel met mekaar wat dit is of wie dit is wat mense in vandag se tyd en omstandigheid teleurstel. Wat is daar wat jou spesifiek teleurstel?

5. Luister nou weer na die Woord
Kyk nou weer na Genesis 15:1-18. Wat gebeur hier? Die gedeelte gaan oor interaksie tussen God en Abram. Let op dat dit nog is voordat Abram se naam in Abraham verander, vader van baie nasies. Jy kan later meer daaroor lees in Genesis 17 waar God die besnydenis instel as teken van sy verbond met Abraham. In Genesis 15 lees ons van teleurstelling by Abram oor sy nuwe lewe saam met God. Teleurstelling oor sy en Sarai se kinderloosheid, asook twyfel oor God se vermoë.  

6. Fokus op wat God doen
God neem die inisiatief in hierdie gesprek met Abram. Hy groet Abram met ‘n woord van troos, van versekering: Moenie bang wees nie, Abram Ek beskerm jou, en met ‘n belofte: Jou beloning sal baie groot wees. Daarna verseker Hy hom van ‘n nageslag, en op grond van Abram se onsekerheid, twyfel en ongeloof, gee Hy aan Abram ‘n opdrag om gereed te maak dat God met hom ‘n verbond (ooreenkoms) kan sluit. ‘n Verbond is ‘n liefdesooreenkoms wat God met mense sluit – soos ‘n kontrak, maar nie op gelyke vlak nie. God bepaal die inhoud en bepalings van hierdie verbond. Aan Abram belowe Hy ‘n nageslag en land. Abram en sy nageslag moes met liefde en gehoorsaamheid op God se verbond(endheid) reageer. God sal vir hulle God wees (sorg) en hulle moes sy kinders wees (gehoorsaam).

7. Antwoord met ons lewe
Abram antwoord met gehoorsaamheid. Hy berei voor dat God met hom ‘n verbond kan sluit. In daardie tye is ‘n verbond letterlik “gesny” (Hebreeuse woord vir verbond sluit). Diere is middeldeur gesny en die stukke teenoor mekaar neergesit. Beide partye van die kontrak sal dan tussendeur gaan as teken van wat sal gebeur as jy nie jou kant van die ooreenkoms nakom nie. Abram berei die diere voor: - ‘n vers, ‘n bok en ‘n skaapram, ‘n tortelduif en ‘n gewone duif. Abram word egter deur ‘n doodsvrees oorweldig en raak van uitputting teen sononder aan die slaap voordat Hy tussen die diere deur loop. En toe gaan God toe die son onder gegaan het en dit donker was, met vuur tussen die stukke deur. Abram was waarskynlik doodsbenoud omdat hy geweet het hy kan nie volmaak sy kant van die ooreenkoms (verbond) met God nakom nie, maar God doen dit uit sy genade en almag en trou.

8. Bid nou saam
So bring God ook deur Jesus Christus versoening tussen Hom en ons. En sluit Hy met ons ‘n nuwe verbond – nie t.o.v. land en nageslag nie, maar t.o.v. kindskap van God en die ewige lewe. En Hyself waarborg dit en daarom gee Hy vir ons die teken van die doop – ‘n versekering en bewys op ons voorkoppe, nog voordat ons kan antwoord – van sy liefde en vergifnis. Kom ons sê vir die Here dankie dat Hy Homself deur die doop aan ‘n klein kindjie, maar ook aan elkeen van ons verbind het en gaan antwoord met geloof en gehoorsaamheid – soos Abram! Kom ons bid ook vir die ouers Wim en Nicolene Greeff en familie van Lindi, (en haar boetie en sussie) Reuben en Joné, dat hulle saam met ons geborge sal leef in die teenwoordigheid van God wat Homself aan ons verbind, en dat hulle hulle kinders elke dag sal grootmaak in die liefdevolle teenwoordigheid van die Here.