1. LIEF EN LEED – deel met mekaar lief en leed vir voorbidding en danksegging.
2. INGENOOI IN GOD SE RUS EN TYD – raak doelbewus rustig in God se teenwoordigheid en bid saam.
3. LUISTER NA GOD SE WOORD – LEES 1 JOHANNES 4:7–21. Wat tref jou met die eerste oogopslag in hierdie gedeelte? Gesels met mekaar daaroor.
4. LUISTER NA MEKAAR EN DIE WêRELD – Die wêreld het dikwels ‘n verdraaide begrip van God, en hulle Godsbegrip laat hulle ook die liefde van God verkeerd verstaan. Gesels saam hieroor. Beteken God se liefde ons kan leef soos ons wil?
5. LUISTER NOU WEER NA GOD SE WOORD – LEES WEER 1 JOHANNES 4:7 – 21. Die kern van hierdie gedeelte is: – GOD IS LIEFDE! – Vers 9 sê wat die treffende gevolg is van die feit dat God liefde is. BESPREEK SAAM vers 9. Vers 10 beklemtoon dat juis dit werklike liefde is! Liefde wat God bewys het. God sou sy dienaars vanuit die hemel kon stuur om ons te red. Maar God doen dit nie. Hy kom self! Sy VADERHART VOL LIEFDE laat Hom so optree! Dit is die boodskap van verse 9–10. Lees dit weer saam. Om dit te weet is vir die mens allesgenoegsaam. Ons moet dit onophoudelik in ons hart dra en dit getuig met ons lewe! In hierdie drie woorde lê die geheim van die sin van die lewe. In hierdie waarheid is die verlossing van die wêreld opgesluit, God is liefde – hierdie waarheid bevat die vreugde van ons totale bestaan. Dit sluit ons toekoms oop. Dit verwoord die hele boodskap van die Bybel. Daarom aanbid ons hier saam, want God is liefde. God is nie toorn nie. die vuur wat in God se hart brand is liefde, en nie toorn nie. Natuurlik is die sonde ‘n versteuring van God se bedoeling met ons en sy skepping. Maar God laat Hom nie van stryk bring nie.Sy liefde brand te sterk. Want God is God, en nie ‘n mens nie. Hieraan moet ons met geloof vashou, dat God liefde is! Juis wanneer ons vra: Is God liefde, juis dan moet ons hieraan vashou: GOD IS LIEFDE!!! En God se liefde oorwin alles! Die waarheid en die werklikheid daarvan is geopenbaar in Jesus Christus! In Hom kom God self, sonder om ‘n oomblik te aarsel, om ons te red! Lees weer vers 9. GOD IS LIEFDE!
6. FOKUS OP WAT GOD DOEN – LEES WEER VERSE 9–10 en gesels oor wat God doen en wat dit vir jou persoonlik beteken.
7. ANTWOORD MET JOU LEWE – HOE kan ons hierdie kernboodskap prakties gaan uitleef in die wêreld rondom ons? Gesels saam daaroor. Wees prakties in die bespreking.
8. BID NOU SAAM aan die hand van ons GEBEDSBRIEF vir die gemeente, en mekaar, en die uitleef van bogenoemde tema.