1. LIEF EN LEED – deel met mekaar lief en leed vir voorbidding, en dank, en lof, en eer aan
die Here.
2. INGENOOI IN GOD SE TEENWOORDIGHEID – God is hier teenwoordig! Raak doelbewus
stil en bid met die verwagting dat Hy met elkeen ‘n ontmoeting sal hê in die byeenkoms.
3. LUISTER NA GOD SE WOORD – LEES 1 KORINTIëRS 13 saam deur. Hierdie is een van die bekendste en mees gelese gedeeltes in die Woord van die Here. Wat tref jou spesifiek wanneer jy die gedeelte deurlees? Wat is die gevaar daarvan dat ‘n Skrifgedeelte as’t ware “oorbekend” kan raak?
4. LUISTER NA MEKAAR EN DIE WêRELD – Wat is die wêreld se siening van liefde?
Wat verstaan die wêreld nié oor God se liefde nie…. volgens jou mening?
5. LUISTER NOU WEER NA GOD SE WOORD – LEES WEER 1 KORINTIëRS 13 SAAM DEUR – Dit is treffend dat ons lewens so verganklik is, maar dat die liefde nooit vergaan nie, sê VERS 8. Dit is juis daarom dat Paulus reeds in vers 1 sê: “Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is…”. LEES nou ook Psalm 103:15-17 wat beklemtoon hoe verganklik die mens is, maar dat God se liefde onverganklik is. Wat sal ‘n miljoen of miljoene jare van nou af steeds bly bestaan as alles al vergaan het? DIE LIEFDE! Paulus gee met 1 Kor. 13 ‘n lewensnoodsaaklike perspektief oor die lewe. Woorde oor die lewe en die sin van die lewe. Uiteindelik bly die liefde en dit wat op die liefde gebou is. Van al die gawes wat God gee, is die liefde die belangrikste. Al die ander gawes, waarvan hoofstuk 12 ook praat, is noodsaaklik vir die opbou van die gemeente en die koninkryk van God, maar net die liefde sal ewig bly. Lees vers 13! “En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!” Die liefde is selfs groter as die geloof en hoop wat God gee. GELOOF sal oorgaan in aanskoue. HOOP sal eendag die vervulling van al God se beloftes maak. Maar die LIEFDE verander nie. Die liefde is ewig, soos God, want GOD IS LIEFDE – 1 JOH. 4:8. Die inspanning van die geloof, en die uitgestrektheid van die hoop, sal iteindelik opgeneem word in die blydskap van die liefde!! Lees weer 1 KOR 13:8. Dit beklemtoon juis dat ons alles wat ons doen op liefde moet bou! Vers 1 sê dit is absoluut die allerbeste, daarmee ons ons lewens vul en daaraan sin gee! Die liefde is wesentlik, oortref alles, en skakel die huidige lewe met die toekoms! Die liefde is vir die harde werklikheid van elke dag! Dit is nie net ‘n mooi teorie nie. Al doen jy watter indrukwekkende dinge ook al, as dit nie op liefde gebou is nie, beteken dit NIKS! Met 1 KOR. 13 se liefde bedoel Paulus die liefde UIT GOD, DEUR GOD, TOT GOD. Ons ontvang dit van God, en gee dit onder leiding van die HEILIGE GEES terug, deur God lief te hê, en ons medemens lief te hê. Hierdie liefde is ons nalatenskap – ons “legacy”. VERS 8: “DIE LIEFDE VERGAAN NOOIT NIE.”
6. FOKUS OP WAT GOD DOEN – gesels saam oor hóé God ons toerus om so te kán liefhê
soos Hy dit bedoel.
7. ANTWOORD MET JOU LEWE – hoe kan ons verder beweeg as om net te praat oor
hierdie liefde? Hoe kan ons groei daarin en dit prakties gaan uitleef?
8. BID NOU SAAM HIERVOOR, EN ANDER MENSE, EN DINGE, SOOS GOD DIT DEUR
SY GEES OP ONS HARTE PLAAS IN DIE BYEENKOMS.