1. LIEF EN LEED – deel met mekaar julle lief en leed met die oog op perspektief, dankbaarheid en voorbidding.
2. INGENOOI IN GOD SE TEENWOORDIGHEID – raak rustig en bid saam. Jy/julle is in die teenwoordigheid van die liefdevolle en almagtige God.3. LUISTER NA GOD SE WOORD – lees Johannes 19:17-19 en Lukas 23:33-43 saam deur. In hierdie Skrifgedeeltes lees ons van die kruising van Jesus, die hoogtepunt (dieptepunt) van ons Here Jesus se lyding vir ons. Dit wat ons in hierdie lydenstyd en Paastyd vier. Wat tref jou uit hierdie twee gedeeltes? GESELS SAAM DAAROOR.
4. LUISTER NA MEKAAR EN DIE WêRELD – Op ‘n manier is die twee misdadigers aan die kruis en al die omstanders en rolspelers die verteenwoordiging van die hele wêreld, en ook van ons saam met die wêreld. Uit watter groepe mense bestaan die mensdom? Hoe sou julle die wêreld indeel? Watter groeperinge, hoeveel groepe en waarom? En dan die vraag: Hoekom hang Jesus in die middel (van twee misdadigers)?
5. LUISTER VERDER NA DIE WOORD VAN GOD – lees weer Johannes 19:17-19 en Lukas 23:33-43. Johannes 19:18: Daar het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel. Let op na die mense rondom die kruis en rondom Jesus. Wat doen die mense? Die volk staan en kyk, die geestelike leiers lag Jesus uit, die soldate bespot Hom en verdeel Jesus se karige besittings onder mekaar – saam daag hulle Jesus uit om Homself te red! As hy dan die Koning van die Jode en die Messias is! Ook die misdadigers wat weerskante hang, het ‘n eiertjie te lê: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!” Genadiglik doen Jesus dit nie – altans nie dadelik nie! En een van die wat langs Hom hang, wys die ander tereg en bid tot Jesus dat Hy aan hom sal dink as Hy in sy koninkryk kom. En wat doen Jesus? Hy red hom! En ons en almal wat in Hom glo in die hele wêreld! So gee Hy aan gelowiges die ewige lewe en gee Hy ons ook aan mekaar in ‘n stukkende wêreld, soos Hy Maria en Johannes aan mekaar gee.
6. FOKUS OP WAT GOD DOEN – Jesus hang tussen hemel en aarde, God en mens, lewe en dood, verlossing en verlorenheid en goed en sleg (geloof en ongeloof). Gesels oor wat God doen of sê deurdat Jesus aan die middelste kruis hang. Dit sê o.a. dat Jesus Hom met alle mense vereenselwig (ook ons), dat die misdadigers die hele mensdom, goed of sleg verteenwoordig en dit toon ook mense se twee moontlike reaksies op Jesus en sy kruisdood: Aanvaarding (verlossing) en verwerping (verlorenheid)
7. ANTWOORD MET JOU LEWE – gesels dan oor wie van hulle rondom die Man in die Middel soos jy is, en aan watter kant van Jesus jy staan (hang)? Links of regs – aan God se oordeel of God se genade? Gaan leef dan uit God se genade en jubel en juig oor Hom die Koning Jesus Christus!
8. BID SAAM EN Sê VIR JESUS DANKIE VIR SY KRUISDOOD EN OORWINNING!