1. Lief en leed
Deel met mekaar julle lief en leed en wat jou die week en met Sondag se erediens getref het.

2. Ingenooi in God se rus en tyd
Raak rustig en ontspan in die heerlike teenwoordigheid van die Here.

3. Luister na God se Woord
Lees Jesaja 41:8-14 en Efesiërs 1:13+14 in stilte ‘n eerste maal deur. Daarna kan iemand dit hardop voorlees. Luister aandagtig – dit is ‘n moeilike gedeelte om te verstaan.

4. Luister na mekaar en die wêreld
In die Christelike kerk is daar verskillende tradisies ten opsigte van die doop. Die doop is ‘n teken van God! Dit is een van twee sakramente (heilige tekens) wat God aan ons as mense gee, om ons geloof te versterk. Die ander sakrament is die Nagmaal. Deel met mekaar hoe verskillende kerke en mense die doop sien.

5. Luister nou weer na die Woord
In Jesaja 41 (asook die volgende paar hoofstukke) lees ons oor God se liefde vir sy volk. Israel was die volk van God wat deur Hom gekies is om aan Hom te behoort en sy liefde en goedheid te ontvang. Hulle moes ook van sy grootheid en liefde getuig tussen ander volke. In Jesaja 40-44 lees ons van die sorg en trou van die Here en spesifiek van die verbond wat Hy met sy volk sluit. ‘n Verbond is ‘n liefdesooreenkoms wat God met mense aangaan. En die inhoud van hierdie ooreenkoms is God self – dat Hy Homself aan sy volk gee. Al is sy volk (mense) klein en nietig en bang, verbind God Homself aan hulle. In die Ou Testament het God hierdie liefdesooreenkoms (verbond) met sy volk Israel aangegaan en in die Nuwe Testament met sy nuwe volk waarvan ek en jy ook deel is. Daarom lees ons in Efesiërs 1:13 dat die Heilige Gees ons in Jesus Christus as die eiendom van God beseël het. Hiervan is die doop ‘n teken. Ons behoort nie aan onsself of aan mekaar nie, ons is God s’n!

6. Fokus op wat God doen
God belowe Homself dus aan ons as mense. Hy verseker ons dat Hy ons Vader is wat ons liefhet en vir ons sorg (God die Vader); dat Hy ons Verlosser is wat reeds vir ons skuld en sonde gesterf het (Jesus Christus, die Seun van God) en dat Hy ons Leidsman en Trooster (die Heilige Gees) is wat ons herinner aan wat Jesus gedoen en gesê het en ons in die volle waarheid lei. Dit belowe Hy aan ons in sy Woord asook in die doop. Die doop is die persoonlike belofte van God aan ‘n mens. En die Here wag nie tot jy en ek gereed is om vir Hom te lewe of totdat ons dit regkry om volmaak te leef nie, Hy gee Homself al van die begin af aan ons. Hy het ons lief en ken ons en is al met ons besig van die oomblik van konsepsie af – van nog voor ons geboorte af.

7. Antwoord met ons lewe
Daarom kan ons met geloof en dankbaarheid op God se teenwoordigheid en belofte van Homself reageer. Ons weet dat ons nooit alleen is of alleen sal wees nie, dat God ons vashou en beskerm en dat Hy sin en betekenis gee aan ons hele lewe -  of dit nou goed gaan of sleg. Hy die Almagtige, belowe sy hulp, liefde, teenwoordigheid en genade aan ons, al is ons klein nietig en bang. Niks op aarde of in die hemel kan ons van sy liefde skei nie! Ja, nie eers my eie dood of die dood van ‘n geliefde nie!

8. Bid nou saam
Kom ons sê vir God dankie dat Hy Homself aan ons belowe en altyd by ons is; dat ons aan Hom behoort en dat Hy daarom met ons die pad loop in die lewe wat geloop moet word. En kom ons antwoord dan met geloof en gehoorsaamheid en deel God se liefde en goedheid met mekaar as geliefdes en medegelowiges. Bid ook spesifiek vir die kinders wat Sondag gedoop is en hulle ouers.