1. Lief en leed
Deel met mekaar julle lief en leed en wat jou die week en met Sondag se erediens getref het.
2. Ingenooi in God se rus en tyd
Raak rustig en ontspan in die heerlike teenwoordigheid van die Here.
3. Luister na God se Woord
Lees Lukas 23:32-39 in stilte ‘n eerste maal deur. Daarna kan iemand dit hardop voorlees. Luister aandagtig – dit is ‘n moeilike gedeelte om te verstaan.
4. Luister na mekaar en die wêreld
Gesels oor die onverstaanbare onreg, moord en doodslag wat vandag aan die orde van die dag is. Plaasmoorde op die platteland, Xenofobiese misdaad in die stad, kapings, roof, ens. Dit lyk asof daar geen respek meer vir lewe in ons land is nie. Hoekom dink julle gebeur hierdie dinge?
5. Luister nou weer na die Woord
Ons is aan die begin van Lydenstyd. Vandag is dit die Sondag van Verheerliking en Woensdag 1 Maart is dit Aswoensdag. Daarna volg sewe Lydens-Sondae voor Goeie Vrydag. Jesus se intog in Jerusalem word op 9 April (Palm-Sondag) gevier. Die dieptepunt van Lydenstyd word tydens die Groot Lydensweek (10-15 April), Goeie Vrydag (14 April), Swart Saterdag (15 April) en Paassondag (16 April) bereik. Op 16 April word die belangrikste gebeurtenis ooit gevier: Die opstanding van ons Here Jesus Christus! In Lydenstyd herdenk ons die tyd van Jesus se voorbereiding vir sy bediening en die aanloop tot die viering van Jesus se verlossingswerk aan die kruis asook die nuwe lewe wat deur sy opstanding moontlik gemaak is. Ons word herinner daaraan dat die Here wat gekom het om te ly en te sterf aan die offerhout, ook die Koning van die heelal en die Regter van die wêreld is! Kyk nou weer na ons skrifgedeelte. In Lukas 23 lees ons van die teregstelling (kruisiging) van Jesus. Baie mense loop agter Jesus aan en treur en huil. Twee misdadigers word saam met Hom op Golgota (Plek van die Kopbeen) gekruisig – weerskante van Hom. Die volk staan en kyk, die raadslede lag Jesus uit en die soldate dobbel om sy klere. Die geestelike leiers, soldate en een misdadiger spot Hom en tart Hom uit.
6. Fokus op wat God doen
En wat doen Jesus? Hy bid! Sy eerste woorde aan die kruis: “Vader, vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie!” Jesus bid vir Homself nie, of vloek nie die mense wat Hom kruisig nie, of verwens nie die mense wat Hom spot nie – Hy bid vir hulle, vir elke soldaat en raadslid, elkeen van die volk en die misdadigers – ja, Hy bid vir die ganse mensdom en ook vir jou en my! Want mense weet nie wat hulle doen nie. Mense besef nie die diepte van die pyn en die onreg wat mense mekaar aandoen nie; die skuld en die sonde, die vernietiging en smart, die skade, hartseer en onnodige pyn!
7. Antwoord met ons lewe
Jesus se eerste kruiswoord (gebed aan die kruis) vertoon die hart van die Evangelie. Dit is hoekom Hy gekom het en moes kom! Om vergifnis aan ‘n stukkende, wrede wêreld te bring. Om te sterf vir elke moord en misdaad in die wêreld. Om die sonde en onreg en pyn van alle mense te dra. Ons voorreg en uitdaging is om in Jesus se Naam te gaan vergewe. Dit kom nie vanself nie. Dit is iets wat ons slegs kan kies om te doen en kan regkry as ons uit die offer van Jesus, in gehoorsaamheid die gesindheid van Jesus soek en sy vergifnis vertoon. Mag God ons hiertoe help deur sy Heilige Gees.
8. Bid nou saam
Vader, vergewe ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe – soos Jesus!