1. Lief en leed -Deel met mekaar julle lief en leed asook wat jou Sondag met die eredienste getref het.

2. Ingenooi in God se rus en tyd – Wanneer ons stil word in Stiltetyd of ‘n erediens, is dit nie om God te nooi om by ons te wees nie, maar eerder die erkenning dat ons in God se teenwoordigheid is! Hy is klaar hier! Hy nooi ons in sy teenwoordigheid in. Ons leef elke oomblik in sy teenwoordigheid! Word stil voor Hom en dank God dat jy die vrymoedigheid mag hê om tot God te nader. Meer nog – dat God by jou teenwoordig is!

3. Luister na God se Woord - Lees 2 Korintiërs 3:7-18 eers in stilte deur. Vra iemand nou om dit hardop vir die groep voor te lees. Waaroor gaan dit hier? Watter opskrif sou jy/julle aan hierdie gedeelte kon gee? Die gedeelte gaan oor die wet, heerlikheid, bediening, veroordeling en vryspraak. Dit praat o.a. oor vrymoedigheid en geslotenheid, sluiers en die groeiende heerlikheid van God wat wat mense uitstraal. Dit vertel ook van God die Heilige Gees se rol en werking in ons lewe.

4. Luister na mekaar en die wêreld – Dink na en gesels oor dinge wat mense se geestesoë vir God en sy Evangelie toemaak. Wat versluier (verblind) mense dat hulle nie God se genade kan raaksien of beantwoord nie? Wat is daar wat mense doen of sê, of versuim of verswyg wat dit vir ander moeilik maak om God se liefde te beleef en sy vergifnis hulle eie te maak. Deel met mekaar watse dinge jou dalk van Christenskap sou kon afsit, of wat jy dalk soms doen/nie doen nie, wat ander mense sou kon wegstoot. Dink ook oor dinge wat al in God se Naam gedoen/gesê word/is, wat ander mense veroordeel en wegstoot.

5. Luister nou weer na die Woord – Dink nou na oor 2 Korintiërs 3:7-18. In die gedeelte gaan dit veral oor ‘n bediening – die bediening wat die Here ook aan jou en my opgedra het. Dalk sou ‘n goeie opskrif vir die gedeelte gewees het: Die ware bediening, of Die bediening van genade, of selfs ‘n Heerliker bediening! Die gedeelte praat van twee verskillende tipes bedieninge. ‘n Bediening wat met heerlikheid gekom het, maar wat tot die dood lei. Dit is die bediening waardeur mense veroordeel word. Dan praat die gedeelte ook oor die heerliker bediening deur die Gees – ‘n bediening waardeur mense vrygespreek word! Natuurlik gaan die eerste bediening oor die wet en die verkondiging van die wet, en die tweede oor die genade in Jesus Christus en die verkondiging daarvan. Dit is ‘n oortreffende heerlikheid wat nie kom en gaan nie, maar wat vir ewig bly! Dit gee vir ons die vrymoedigheid om uit God se genade te leef, en dit met vrymoedigheid te deel – te bedien.

6. Fokus op wat God doen – Let daarop dat God deur Gees hierdie heerliker bediening bewerk het. Hy het die sluier van ons afgehaal, sodat ons sy genade, vergifnis en liefde met vrymoedigheid kan raaksien en ons eie maak. Die Gees van die Here neem die sluier weg en bring vryheid (nie veroordeling nie). Meer nog: Die Gees van die Here laat dan sy heerlikheid (genade wat vryspreek) deur ons toeneem!

7. Antwoord met ons lewe – Die hartseer is dat ek en jy as gelowiges en ons getuienis baie keer mense die kous oor die kop trek – ‘n versluierende genade. En dan is dit nie regtig genade, maar veroordeling! Dis hartseer dat die manier en gesindheid waarop ons ander mense benader, hulle dikwels eerder wegstoot van God, as aanraak met sy liefde. Dat ons in plaas van om vergifnis en vryspraak te bedien, teruggryp na die bediening wat tot die dood lei – deur mense te veroordeel! Dit is tog nie jou en my (die kerk) se reg en se taak om regter te speel en mense te veroordeel nie! Dit is ons roeping en voorreg om mense te dien met God se aanvaarding en genade. Dit beteken jy moet voor ander gaan buig met nederigheid, aanvaarding en liefde. Ons moet ophou kritiseer en polariseer en eerder God se vryspraak bedien en uitleef! Hoe gaan jy in hierdie week met vrymoedigheid die genade van God bedien, en nie versluier nie? Sodat ander God deur jou kan beleef!

8. Bid nou saam

  • Dank God vir sy teenwoordigheid en die vrymoedigheid om in sy teenwoordigheid te mag wees!
  • Doen ‘n oomblik in stil gebed selfondersoek – wat is daar in jou gesindheid, houding, optrede of woorde wat mense wegstoot of veroordeel. Vra die Heilige Gees om jou bewus te maak daarvan.
  • Buig voor God in gebed oor wat ons as groep of gemeente of gelowiges doen/nie doen nie, wat ander mense die sluier oor die kop trek.
  • Lê dit voor die Here en wy jouself aan Hom. Stel jou beskikbaar om die heerliker bediening te bedien, wat tot vergifnis en vryspraak lei!