1. DEEL LIEF EN LEED MET MEKAAR – dit is meeste groepe se eerste byeenkoms na die skoolvakansie. Maak gebruik van hierdie geleentheid en hoor hoe dit regtig met mekaar gaan, en wat julle die afgelope tyd beleef het, met die oog op ondersteuning asook voorbidding.
2. INGENOOI IN GOD SE RUS EN TYD – vind volkome rus in Sy teenwoordigheid,
dit is ‘n geleentheid om saam stil te raak by God se voete met gebed.
3. LUISTER NA GOD SE WOORD – lees 2 Konings 5: 1 – 15 en 1 Korintiërs 1:18,
22 – 25. Deel met mekaar julle indruk rakende hierdie gedeelte. Hoe het die Here
Elisa in hierdie gedeelte gebruik? Dink julle hy was verkeerd om nie Naäman persoonlik te gaan toespreek nie? Wat dink julle was die rede vir Elisa se optrede?
Deel met mekaar wat die pas afgelope Paasnaweek vir jou persoonlik beteken het. Put ons nog werklik in vandag se tyd krag en lewe uit hierdie onselfsugtige gebeurtenis? Hoekom dink julle het die Grieke wysheid en die Jode wondertekens gesoek oor die kruisiging en opstanding? Was die sterwe en opstanding opsigself dan nie ‘n groot genoeg wonderteken nie? Vers 25 sê duidelik dat dit wat vir die wêreld onsin is, is groter wysheid as die van mense en wat vir die wêreld swakheid is, is groter as die krag van mense. Hoe kan ons hierdie vers in ons lewens toepas en daaruit lewe?
4. LUISTER NOU WEER NA GOD SE WOORD – kyk weer na die teksgedeeltes, wat is God se rol as Heerser (oor alles) en sy opdrag aan ons, sy dissipels in hierdie verse? Skaar ons ons by die mense (die wêreld) of by God? Gesels met mekaar hieroor. Hoe dink julle kan ons die wat hulle eerder by die mense skaar help om om te draai en hulle eerder by God te skaar?
5. FOKUS OP WAT GOD DOEN – hierdie gedeelte bevestig die grootheid van God
se Almag en wat Hy vir ons gedoen het. Wat maak jy met dit wat God vir jou doen? Glo jy onvoorwaardelik in Hom, in Sy sterwe, sowel as Sy opstanding? Is jy gehoorsaam aan God se verwagtinge vir en van jou?
6. ANTWOORD MET ONS LEWE – God vra dat ons sal glo en gehoorsaam sal wees aan Hom. Kom ons leef dan as geredde en verloste gehoorsame gelowiges!
7. BID NOU SAAM – gee geleentheid vir gebede. Daar kan onder meer gebid word
vir dit wat tydens lief en leed gedeel is, asook dat God se wil in ons pragtige land sal geskied.