1.    LIEF EN LEED – deel met mekaar lief en leed met die oog op bemoediging, voorbidding en dank aan God.

2.    INGENOOI IN GOD SE TEENWOORDIGHEID – God is hier teenwoordig waar ons is. Raak nou doelbewus stil in sy teenwoordigheid, en bid met die verwagting dat Hy met ons elkeen ‘n ontmoeting sal hê.

3.    LUISTER NA GOD SE WOORD – LEES 1 Johannes 2:1 – 11. Wat tref jou met die eerste oogopslag in hierdie gedeelte? Kyk weer na die opskrif en tema van die byeenkoms: LIEFDE LAAT JOU GOD GEHOORSAAM. Wat sê die gedeelte wat ons gelees het vir jou in die lig van hierdie tema?

4.    LUISTER NA MEKAAR EN DIE WêRELD – hoe sien die wêreld gehoorsaamheid? Gesels saam daaroor. Is dit nie meestal vir die wêreld die nakoming van wette en reëls nie? Sien die wêreld nie ook die gehoorsaamheid aan God as net die nakoming van sy “bevele , wette en reëls nie”? Die oorsprong van gehoorsaamheid lê vir baie mense in die nakoming van reëls en regulasies. Die wette, bevele en reëls word geskep, en daarom moet dit gehoorsaam word. Hulle dink dit is die oorsprong van gehoorsaamheid.

5.    LUISTER NOU WEER NA GOD SE WOORD – LEES WEER 1 JOHANNES 2:1-11. Wat laat ons God se wil en Woord gehoorsaam? LIEFDE LAAT ONS GOD GEHOORSAAM! Ons gehoorsaam nie die gebooie en Woord van die Here, en begin dan daardeur lief word vir God nie. God wat self liefde is, kom eerste in genade na ons toe, en gee aan ons sy liefde. Deur die wedergeboorte en bekering, wat die Heilige Gees in ons bewerk, beantwoord ons God se liefde – word ons lief vir God. En ons liefde vir God laat ons dan God se Woord gehoorsaam. Hoe sou ons God kon gehoorsaam, soos Hy dit wil hê en bedoel, as ons Hom nie liefhet nie?! Dan sou ons bloot die wet gehoorsaam uit respek, dwang of vrees vir die gevolg daarvan indien ons nié die wet sou gehoorsaam nie. Nee! Liefde vir God bring gehoorsaamheid aan God. Gebrek aan gehoorsaamheid sou kon dui op gebrek aan liefde en dankbaarheid teenoor God. Dat jy God kén, en Hom liefhet, dit laat jou sy gebooie gehoorsaam soos God dit bedoel. Vers 3: “As ons die gebooie van God gehoorsaam, wéét ons daaraan dat ons Hom kén.” God se liefde, en ons liefde vir God deur die Heilige Gees se werk, dring ons om Hom te gehoorsaam. Jy is rééds God se kind. Rééds gered en vry. Het rééds die ewige lewe. Leef rééds in liefde teenoor God. Dit alles laat jou uit liefde en dankbaarheid God se Woord gehoorsaam. Jesus het aan ons gewys hoe om God te gehoorsaam. Kyk hoe treffend sê vers 5 dit: “Wie die Here se woord gehoorsaam, in hom het die liefde van God werklik sy doel volkome bereik.” Is die “nuwe gebod” van vers 7 nou ‘n klomp wette en reëls? Nee en nogmaals nee. Waarom bly ons vasgevang in wet en oordeel?? Ons verhouding met ons Vader is nie ‘n wet en oordeel verhouding nie, maar in Jesus en deur die Gees ‘n liefdesverhouding! Eers ‘n nuwe hart van liefde, en dit bring gehoorsaamheid aan Hom Wie ons liefhet. Lees saam Esegiël 36:26-27. Eers ‘n nuwe hart en dan gehoorsaamheid. Lees ook Jeremia 31:33. Die nuwe hart maak gehoorsaamheid aan God die wese van Christenwees. Ek het God so lief, ek kan nie anders as om Hom gehoorsaam te wil wees nie!!

6.    FOKUS OP WAT GOD DOEN – gesels saam oor hoe God alles doen om dit vir ons moontlik te maak om aan Hom gehoorsaam te wees!

7.    ANTWOORD MET JOU LEWE – hoe kan ons daarin groei om God meer lief te hê, en daarom ook meer gehoorsaam aan God te lewe?

8.    BID SAAM oor hoe om te groei in ons liefde vir God en in ons gehoorsaamheid aan Hom.