1.    LIEF EN LEED – deel met mekaar julle lief en leed met die oog op perspektief, dankbaarheid en voorbidding.

2.    INGENOOI IN GOD SE TEENWOORDIGHEID – raak rustig en bid saam. Jy/julle is in die teenwoordigheid van die liefdevolle en almagtige God, die bron en oorsprong van alle lewe en liefde. Dit is Hy wat moeders gee aan almal op aarde. Ons vier vandag Moedersdag en daarmee sê ons vir God dankie vir die moeders wat Hy aan ons geleen het.

3.    LUISTER NA GOD SE WOORD – lees Rigters 4:1-10 en Rigters 5:7 saam deur. Julle sou ook verder in hoofstuk 4 kon lees. In hierdie Skrifgedeeltes lees ons van die volk Israel wat vir twintig jaar deur die Kaänaniete onderdruk is o.l.v. koning Jabin. Sisera was sy Generaal wat die Israeliete met geweld onderdruk het.

4.    LUISTER NA MEKAAR EN DIE WêRELD – Jare terug skryf Anton Prinsloo ‘n lied wat in die Ou FAK baie bekend en bemind was – die nostalgiese O Boereplaas. In die lied dink hy met heimwee terug aan sy geboortegrond (Boereplaas), moederhuis en moedertaal wat hy kosbaar ag al is hy waar ook al in die wêreld. Deel met mekaar waar julle groot geword het en wat julle onthou en met dankbaarheid aan terugdink. Deel ook met mekaar watter tipe mens jou moeder is/was.

5.    LUISTER VERDER NA DIE WOORD VAN GOD – lees weer Rigters 4:1-10 en Rigters 5:7. In die Rigters se tyd was daar nog nie ‘n vaste koning vir Israel nie; God was hulle Koning.

6.    FOKUS OP WAT GOD DOEN – Die Here het elke keer wanneer dit nodig was iemand gegee, ‘n leier, ‘n rigter om die volk te rig (op die regte pad te lei). En soms was die persoon ‘n vrou, soos Debora. Debora was ‘n wyse vrou wat die volk in moeilike tye raad gegee het. Sy was ook iemand wat in afhanklikheid van God gelewe het en dan in gehoorsaamheid gedoen het wat Hy vra. Barak, die generaal van die Israelietiese leer kry via Debora die opdrag by God om op te trek en die vyand te verslaan. Hy is egter te bang om alleen uit te trek, en versoek dat Debora, die profetes saam met Hom sal gaan. ‘n Profeet (profetes) was immers die segsman (-vrou) van God. Debora doen dit, maar dan word die eer vir die oorwinning nie aan Barak gegee nie, maar aan ‘n vrou Jael – (Geber, die Keniet se eggenote). Jael maak op die ou end vir Sisera dood. So werk God deur ‘n vrou – ‘n moeder van Israel om sy wil te laat geskied en sy volk te verlos.

7.    ANTWOORD MET JOU LEWE – dink ‘n bietjie oor die eienskappe van die vrou Debora; die profetes, ‘n leier, ‘n regter, ‘n vegter, ‘n sangeres - die Moeder van Israel! Gesels nou oor hoe God deur jou moeder werk / gewerk het om jou nader aan sy wil en liefde te bring.

8.    BID SAAM EN Sê VIR GOD DANKIE VIR DIE MOEDER/S IN ONS LEWE. Sommige is alreeds by God, en ander is nog hier. Mense wat ook hulle foute en swakhede het, maar tog deur God gebruik word om ‘n lewenslange verskil in ons lewens te maak. Goddank vir Moeders!

Moeder = versorger. Sorg deur leding, sorg deur raad, sorg deur regspraak, sorg deur te baklei vir haar kinders, sorg deur te dissiplineer, sorg deur God se wil bekend te maak – profetes, sorg deur gebed, afhanklikheid van die Here
O Moederhuis, waar ooit so tuis? Jou het ek lief – bo alles...    Rigters 5:7
Die lewe buite die stede … het gekwyn … totdat … Debora na vore gekom het, totdat ‘n moeder in Israel na vore gekom het.

Boereplaas deur Anton Prinsloo