1.    LIEF EN LEED – deel met mekaar julle lief en leed met die oog op perspektief, dankbaarheid en voorbidding.

2.    INGENOOI IN GOD SE TEENWOORDIGHEID – raak rustig en bid saam. Jy/julle is in die teenwoordigheid van die liefdevolle en almagtige God, die bron van alle lewe en liefde.

3.    LUISTER NA GOD SE WOORD – Dwarsdeur die Bybel vind ons mense wat sing. Moses hef ’n loflied aan nadat God die Israeliete veilig deur die see gelei het (Eksodus 15:1-19). Dit word voortgesit deur Mirjam, begelei met tamboeryn en dans (Eksodus 15:20-21). Dawid is onder andere bekend vir die Psalms in die Bybel. Sagaria sing ’n loflied na die geboorte van Johannes die Doper (Lukas 1:68-79) en Maria se lofsang (Lukas 1:46-55) besing die grootheid van God. Die boek Klaagliedere en ook ’n aantal Psalms dra die digters se pyn en wroeging oor.

4.    LUISTER NA MEKAAR EN DIE WêRELD – Psalm 137 beskryf mense wat nie meer kan sing nie. Die digter beskryf die diepste ellende waarin God se volk hulle bevind as bannelinge in Babel na die val van Jerusalem. Hulle het alles verloor. Hulle is ontwortel, ontneem van alles wat waarde het en uitgelewer aan hulle oorheersers. Hulle moet ook nog die spot verduur van hulle oorheersers wat eis dat hulle ’n lied oor Sion moet sing. Praat met mekaar wat dit vandag is wat mense moedeloos maak; wat maak dat hulle nie meer kan of wil sing nie. Deel met mekaar vanuit die lief en leed van julle eie lewens.

5.    LUISTER VERDER NA DIE WOORD VAN GOD – In Openbaring 1:9 ev. ontmoet ons nog ’n banneling, Johannes wat as politieke gevangene verban na die eiland Patmos om te verhoed dat hy die boodskap van bevryding deur Jesus Christus verkondig. Openbaring  is ’n troosboek aan gelowiges om hulle te versterk in die tyd van vervolging. Die boek is in sterk simboliese taal geskryf. Johannes bevind homself in die troonkamer van God. Hy sien ’n troon waarop Iemand sit met ’n boekrol in die hand, maar niemand in die hemel of op die aarde is waardig om die boekrol se seëls te breek en oop te maak nie (Openb 5). Johannes was baie ontsteld daaroor, maar een van die ouderlinge troos hom deur te wys op die Leeu van Juda, wat die oorwinning behaal het en die boekrol kan oopmaak. Johannes sien toe ’n Lam wat geslag is, met sewe horings en sewe oë. Dit dui op die Lam se almag en op die Heilige Gees.

6.    FOKUS OP WAT GOD DOEN – Die boekrol is die simbool van God se wil. Slegs Jesus het God se wil ten volle uitgevoer aan die kruis. Hy het ons vrygemaak! Hierop volg die nuwe loflied van die ouderlinge en die vier lewende wesens:(Openbaring 5:9-10). Hierop antwoord die ganse skepping en bring lof aan Hom wat op die troon sit en aan die Lam. Die ouderlinge en lewende wesens beaam dit in aanbidding. Kom ons juig saam met hulle!

7.    ANTWOORD MET JOU LEWE – sing op hierdie Pinksterdag ‘n nuwe lied! Die lied van die Lam wat ons vrygemaak het om ‘n Pinksterlewe te kan leef o.l.v. die Heilige Gees en gaan leef dan gehoorsaam aan Hom, met blymoedigheid!

8.    BID SAAM EN Sê VIR GOD DANKIE VIR SY BEVRYDING EN GENADE.