1. LIEF EN LEED – deel met mekaar julle lief en leed m.d.o.o. dankbaarheid en voorbidding.
2. INGENOOI IN GOD SE TEENWOORDIGHEID – raak rustig en bid saam. Jy/julle is in die teenwoordigheid van die liefdevolle en almagtige God, die bron van alle lewe en liefde.
3. LUISTER NA GOD SE WOORD – Lees 1 Konings 19:1-21 in stilte deur.
4. LUISTER NA MEKAAR EN DIE WêRELD – Die lewe werk nie altyd uit soos ons dit beplan nie, of eerder, die lewe werk min uit soos ons dit beplan. Dit maak by ‘n mens die vraag wakker van: maar wat is God se bedoeling hiermee of die plan wat Hy met ons het? Gesels met mekaar oor dinge in jou lewe wat heeltemal anders uitgewerk het as wat jy verwag het, en hoe jy daarop gereageer het.
5. LUISTER VERDER NA DIE WOORD VAN GOD – Lees nou Lees 1 Konings 19:1-21 saam deur. In die gedeelte word ‘n baie interessante geskiedenis verwoord. Net voor dit, in 1 Konings 18, lees ons van die konfrontasie tussen Elia en die Baäl-profete, of eerder tussen die lewende God en Baäl op die berg Karmel. Elia was net soos Moses ‘n leier van Israel, ‘n profeet wat hom in God se Naam teen koning Agab en sy listige, bloeddorstige vrou Isebel verset. Ook teen die afgodsdiens t.o.v. Baäl. Na ‘n jarelange droogte oor die volk se ontrou, daag Elia die Baäl-profete en die volk uit op die berg Karmel, wanneer offers gebring word aan Baäl en aan die lewende God van Israel. Elia se gebed word verhoor en God verteer sy offer met vuur, maar die Baäl-profete roep en skree en sny hulleself stukkend, maar Baäl bly stom. Daarna laat Elia al die Baäl-profete doodmaak en toe word die droogte gebreek. Maar die volgende oomblik moet Elia vlug vir sy lewe want Isebel sweer om hom te laat doodmaak. Depressief vlug hy die woestyn in, en bid dat God maar eerder maar sy lewe moet neem. Hy kan en wil nie meer nie...
6. FOKUS OP WAT GOD DOEN – God stuur ‘n Engel om hom te versterk en laat Elia veertig dae die woestyn in loop tot by die berg Horeb, waar Hy hom in windstilte ontmoet. Nie in die sterk wind en aardbewing of vuur, wat alles tekens was van God se teenwoordigheid nie, maar in die fluistering van die windstilte. En daar konfronteer die Here vir Elia: “Wat maak jy hier Elia?” Elia se antwoord oor sy toewyding en die vrees vir sy lewe bevredig God nie, want Hy sê vir hom: “Draai in jou spore om!” Gaan dadelik terug... Want God se plan vir sy volk was anders, anders as wat Elia of Agab of Isebel gedink het. En so stuur God Elia om Gasael as koning te salf van Aram, Jehu as koning van Israel en Elisa as profeet in sy plek. En hy moes eers ‘n paar jaar vir Elisa leer en weereens vir Agab en Isebel konfronteer – o.a. oor Nabot se wingerd – voordat sy dienstermyn verby was.
7. ANTWOORD MET JOU LEWE – God se plan met jou lewe is ook anders – anders as wat jy gedink het of selfs as wat jy beplan. Die mens wik, maar God beskik; die mens beplan sy pad, maar God bepaal hoe hy loop! Dalk wil die Here jou ook in jou spore stuit, soos vir Elia of vir Paulus op die pad na Damaskus. Na wie of wat moet jy omdraai en eers op God se manier gaan klaarmaak?
8. BID SAAM EN Sê VIR GOD DANKIE. Hy stap met ons ‘n pad en het ‘n plan en bedoeling van ons lewe. En al is daar sukses of mislukking, moed of wanhoop, is Hy by ons en laat Hy sy wil met en deur ons geskied. En so rig Hy ons, nie deur die groot oorwinnings of indrukwekkende gebeure in ons lewe nie, maar baie keer deur die stil en swaar tye wat ons deurgaan. Soek sy wil, stap sy pad, vertrou op Hom alleen en gehoorsaam Hom!