1. Lief en leed -Deel met mekaar julle lief en leed asook wat jou Sondag met die eredienste getref het.

2. Ingenooi in God se rus en tyd – Wanneer ons stil word in Stiltetyd of ‘n erediens, is dit nie om God te nooi om by ons te wees nie, maar eerder die erkenning dat ons saam in God se teenwoordigheid is! Hy is klaar hier! Hy nooi ons in sy teenwoordigheid in. Ons leef elke oomblik in sy teenwoordigheid, maar in ‘n groep of erediens vergader ons saam as die huisgesin van God! Word stil voor Hom en dank God dat Hy by ons teenwoordig is!

3. Luister na God se Woord - Lees 1 Korintiërs 3:1-23 eers in stilte deur. Vra iemand nou om dit hardop vir die groep voor te lees. Waaroor gaan dit hier? Watter opskrif/te sou jy/julle aan hierdie gedeelte kon gee? Die gedeelte gaan oor mense wat stry oor geestelike leiers, en oor elke geestelike leier se dienswerk. Mense met verskillende en botsende verwagtinge van leiers. Dit gaan ook oor God wat laat groei en dat elkeen ‘n spesifieke taak en roeping in die tuin/gebou/koninkryk van God het. Dit handel pertinent oor God se rol (groeikrag) en die plek van Jesus Christus in ons verhouding met God en in ons lewenswandel.

4. Luister na mekaar en die wêreld – Dink na en gesels oor die rol en funksie van geestelike leiers. Praat ook oor julle eie gawes en geleenthede en hoe jy jou eie rol as gestuurde gelowige sien. Is jy iemand wat saai of plant of natgooi of oes? Of is jy dalk iemand wat onkruid uitskoffel en mense snoei? Deel ook met mekaar oor wat julle diepste geloofsoortuigings is waarop jy/julle bou. Dink dan bietjie na oor die samelewing vandag en oor wat die breë gemeenskap se lewensbeskouinge sou wees – as ‘n mens dit moet aflei van die optrede van die gemeenskap?

5. Luister nou weer na die Woord – Dink nou na oor 1 Korintiërs 3: In die gedeelte gaan dit veral oor Jesus Christus wat die fondament (fondasie) van Christenskap is. Ook die fondament (Rots) op Wie elke gelowige moet bou. Elkeen het ‘n verantwoordelikheid en ‘n roeping, maar ons bou op Jesus Christus as hoeksteen en fondament. Ons het verskillende gawes, geleenthede en persoonlikhede en bou dus met verskillende en ‘n verskeidenheid van ‘boumateriale’ in God se koninkryk. Trouens, ons is besig om aan God se ‘tempel’ te bou! Die Gees van God woon in ons en ons is sy tempel! Die Tempel simbiliseer die teenwoordigheid en aanbidding van God. Ons vertoon en werk dus elkeen op ‘n unieke manier om God se liefdevolle teenwoordigheid sigbaar te maak, en mense so aan te raak dat hulle die Here kan verheerlik. Daarom moet ons seker maak dat ons op Jesus se Woord en woorde as fondasie bou.

6. Fokus op wat God doen – Dit is God wat Homself deur Jesus Christus aan ons gegee het, en die hoeksteen van ons geloof geword het. Dit is ook Hy wat ons werk sal toets – m.a.w. dit is nie my en jou plek of rol om mekaar se werk te toets of te evalueer nie. God self doen dit deur sy Gees! Let op God se genade, dat Hy ons tog steeds red, ten spyte van ons b(r)ouwerk – al is dit soos brandhout uit vuur! God bly genadig, ten spyte van ons!

7. Antwoord met ons lewe – Kom ons hou op stry en baklei oor ander geestelike leiers, of selfs ons eie rolle en verantwoordelikhede en maak elkeen self seker dat ons met integriteit, verantwoordelikheid en toewyding op Jesus as fondament bou. Mag die geloofsbelydenis wat ander mense uit ons lewens aflees, hulle rig op God wat laat groei en mag ons onder leiding van die Heilige Gees met deernis en sensitiwiteit bou aan die ‘tempel van God”!

8. Bid nou saam

  • Dank God vir sy teenwoordigheid en dat Hy deur sy Gees in ons as sy tempel woon!
  • Doen in stil gebed selfondersoek oor jou bou-/brouwerk. Op W(w)ie en waarmee bou jy? Sal jou bouwerk voor God kan bly staan?
  • Buig voor God in gebed vir die jongmense wat vanaand belydenis van geloof aflê – Brendan Bester, Louis Naudé, Carmen Nel en Marelize von Well - bid vir hulle dat hulle versigtig en konstruktief op die fondament van Jesus sal bou.
  • Sê ook vir die Here dankie vir elke ouer, grootouer, kategeet, predikant, begeleier, vriend, onderwyser en mentor wat ‘n aandeel aan die bouwerk in hierdie jongmense se lewens gehad het.
  • Bid vir al ons geestelike leiers op hulle name asook vir jou (omgee)groep en geliefdes en gemeente - dat die Here self die vrug en groei in mense se lewens sal bring.