1. LIEF EN LEED – deel met mekaar met die oog op voorbidding en danksegging.
2. INGENOOI IN GOD SE TEENWOORDIGHEID – BEWUS van God se teenwoordigheid, bid saam in toewyding aan Hom.
3. LUISTER NA GOD SE WOORD – LEES SAAM - MATTEUS 13:24-30 EN 36-43. Jesus vertel ‘n gelykenis wat ons baie help in terme van VOOROORDEEL. En ook veroordeling van mekaar op grond van vooroordeel. Wat tref jou met die eerste oogopslag in die gelykenis, verse 24-30, en in die betekenis daarvan in verse 36-43.
4. LUISTER NA MEKAAR EN DIE WêRELD – DINK SAAM EN GESELS SAAM oor die groot probleem van vooroordeel waarmee ons so gemaklik saam leef in ons wêreld. Watter wêreldse sieninge dink jy dra daartoe by dat ons so baie vooroordele ten opsigte van mense het? Noem ‘n paar en bespreek.
5. LUISTER WEER NA DIE WOORD – LEES WEER verse 24-30. Ons ly almal aan die probleem van vooroordeel. Erg! Ons is geneig om, met vooroordeel, te oordeel en te veroordeel nog voordat die Here dit doen! Lees Jesus se waarskuwing daarteen in Matteus 7:2. Wat dink jy is die betekenis daarvan? Ons onderskei maklik self die skape van die bokke. Goed of kwaad. Heilig of onheilig. En ons is altyd aan die voordelige regte kant van die oordeels-lyn wat ons trek! Ons leef met vooroordeel, in plaas van met barmhartigheid. Jesus het die Fariseërs dikwels hard hieroor aangespreek. En tog, so dikwels bly ons soos hulle optree. Ons het soos hulle ‘n sterk kwalifisering-sisteem, en ‘n sterk klassifisering sisteem ten opsigte van mense. Gemeet aan ons eie sieninge en voorkeure. Mense wat deur die Fariseërs veroordeel word, is mense saam met wie Jesus eet en kuier. Sondaars, tollenaars, prostitute.....en dan vertel Jesus die gelykenis om hulle weg te lei van vooroordeel, en die veroordeling van mense. Ons trek, soos die Fariseërs, sommer die onkruid en koring saam uit! Haastig om te veroordeel in ons vooroordeel! Ons wag nie, soos die Here, ter wille van die volle oes nie! God gee nog ruimte vir groei. Ontwikkeling en onderskeiding. “Botaniese wonderwerke”, soos Luther dit noem, dat deur God se wonderwerk onkruid in koring kan verander! Ons wil sommer stroop en oes terwyl plantjies nog klein en sonder vrug staan. VOOROORDEEL! Om te oordeel voordat God oordeel. God is geduldig met sy skepsels. Hy skep, en na eeue stuur Hy Jesus, en deur Hom herskep Hy, en Hy stuur die Gees, om aan te hou met sy skeppingswerk, sodat vrug kan kom. God is barmhartig en genadig, lankmoedig en vol liefde. Hy laat die son opkom en Hy laat reën oor die goeies en die slegtes....maar ons ruk uit. God laat Saulus ‘n Paulus word, Simon ‘n Petrus, en die misdadiger aan die kruis ‘n paradysganger! LEES SAAM 2 PETRUS 3:9 en gesels daaroor. Ook PSALM 103:8. Dit beklemtoon die boodskap van die gelykenis. God het medelye en lydsaamheid met elke mens. Ons moet ook ‘n hart kry vir God se mense. Ons moet nie in vooroordeel stroop en oes nie. Ons moet eerder die Woord van God saai met die een hand, en met die ander hand in eie boesem Lukas 18:13 uitroep: “O God, wees mý, sondaar, genadig!” Baie mense maak ons kwaad. Misdadigers, korruptes, politici. Baie mense maak ons ook ongemaklik. Armes, siekes, veroordeeldes in tronke, ander rasse, ander godsdienste, andersdenkendes.....anders as óns! VOOROORDEEL....OF IS JY BARMHARTIG?
6. FOKUS OP WAT GOD DOEN – Moenie die Heilige Gees hierin weerstaan of bedroef nie. HY WIL JOU HELP! Ons kan nie in eie krag en insig nie. Laat die Gees beheer neem van jou lewe!
7. BID! BID! BID!...elke dag hiervoor! En gaan deel God se liefde genade en barmhartigheid uit. Gaan doen dit! Soos ‘n Jesus volgeling! Want onder leiding van die Heilige Gees is dit HY WAT DIT DEUR JOU DOEN!