1.    LIEF EN LEED – deel met mekaar met die oog op GEBED.

2.    INGENOOI IN GOD SE TEENWOORDIGHEID – wees bewus van God se teenwoordigheid en bid saam in toewyding aan Hom.

3.    LUISTER NA GOD SE WOORD – LEES SAAM LUKAS 13:1-9. Jesus vertel ‘n gelykenis, na aanleiding van vrae wat sy toehoorders hier het oor mense wat in rampe gesterf het. Sy antwoord in verse 3 en 5 is verrassend. Wat tref jou
met die eerste oogopslag as jy dit lees? Bespreek dit saam.

4.    LUISTER NA MEKAAR EN DIE WêRELD – dink saam en gesels saam oor hoe die wêreld dink oor mense wat in rampe omkom. Hoe dink jy sou mense in die wêreld verskillend reageer op Jesus se antwoord?

5.    LUISTER WEER NA DIE WOORD – LEES WEER LUKAS 13:1-9. Jesus vertel ‘n gelykenis aan die hand van tragiese gebeure wat plaasgevind het. Mense het baie vrae hieroor gehad. Waarom? Wie se skuld is dit? Noodlot, toeval, ongeluk, of God! Het die wat gesterf het baie groot sondes gehad? Oorsaak – gevolg? Jesus antwoord verrassend anders as wat hulle verwag. Ons sonde moet nie “groot” genoeg wees om so gestraf te word nie. In al hierdie gebeure wil Jesus ons aandag vestig op ‘n ander belangriker saak hieroor. Twee keer herhaal Hy dit, verse 3+5: “Nee, sê ek vir julle, maar as julle julle nie bekeer nie, sal julle net soos hulle ook almal omkom.” Daar is baie vrae, maar die belangrikste is dat ons ons moet bekeer, en ons lewe vir die Here leef met vrug! Jesus plaas die klem op lewe en dat ons in genadetyd lewe! Die gelykenis vertel van ‘n man wat ‘n onvrugbare boom wil uitkap. Die tuinier pleit vir die behoud van die boom. Hy sal die boom nog ‘n jaar versorg, en as hy dan nie vrug dra nie kan die man die boom uitkap. Die tuinier laat die man die oordeel uitstel, sodat die boom nog kans kry om vrug te dra! JESUS het kom intree tussen die boom en die byl. God se byl kom op Jesus neer aan die kruis. Jesus koop duur genadetyd, aan die kruis, en pleit ook by God vir ons! LEES SAAM ROMEINE 8:34 hieroor. Indien ons steeds nie vrug dra nie “kan u hom uitkap” – vers 9. God gee in Christus GENADETYD OM VRUG TE DRA! Lees ROMEINE 2:4 hieroor. Genadetyd is vir bekering, en om vrug te dra! Let op; genadetyd is nie net vir die boom om te oorleef in die wingerd nie, maar die boom word versorg om vrug te dra! Dra jy vrug? Bekering is met die oog daarop om vir God vrug te dra, nie om te sit en wag vir die hemel nie. Dra jy die vrug van bekering?

6.    FOKUS OP WAT GOD DOEN EN BID SAAM HIEROOR.