1.    LIEF EN LEED – deel met mekaar julle lief en leed met die oog op perspektief, dankbaarheid en voorbidding.

2.    INGENOOI IN GOD SE TEENWOORDIGHEID – raak rustig en bid saam. Jy/julle is in die liefdevolle teenwoordigheid van die almagtige God, wat ons Vader geword het deur die bloed van Jesus Christus ons Here.

3.    LUISTER NA GOD SE WOORD – lees 2 Korintiërs 5:14-21 in stilte deur. Wat sê die gedeelte vir jou?

4.    LUISTER NA MEKAAR EN DIE WêRELD – Dink en gesels met mekaar oor Christenskap en vergifnis. Vergifnis (versoening) en liefde is die hart van Christenskap. Is dit maklik om te vergewe? Watter verband dink julle het liefde en vergifnis met mekaar? Wat beteken die begrip, versoening vir jou?

5.    LUISTER VERDER NA DIE WOORD VAN GOD – lees weer 2 Korintiërs 5:14-21. In hierdie gedeelte vind ons die boodskap en die bediening van die versoening. Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God Homself in Christus met ons as mense versoen het. Die ironie is dat die verhoudingsbreuk tussen God en mens, nie van God se kant af kom nie, maar van die mens af, maar dat God tog die inisiatief neem om hierdie breuk te herstel! Die mens kan (en wil) dit nie doen nie.

6.    FOKUS OP WAT GOD DOEN – Die gedeelte is baie duidelik dat dit God is wat vergifnis en vrede bring; dat dit nie binne die vermoë van die mens is om dit te doen nie. Alles is die werk van God! Vir ons as mense is dit blote genade. Ons word uit genade gered, deur die geloof. Tog moet ons op ‘n manier op God se redding reageer.

7.    ANTWOORD MET JOU LEWE – Ons reageer met geloof, gesindheid en gehoorsaamheid. Eerstens aanvaar (of verwerp) ons God se genade. Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het. Ons gryp dus sy liefde en vergifnis (vryspraak) met blydskap vas met die hand van geloof. Dit bely ons elke dag van ons lewe. Tweedens leef ons met ‘n spesifieke gesindheid uit hierdie versoening – ‘n gesindheid van liefde. Die liefde van Jesus Christus dring ons – dit word ons dryfkrag en motivering waarmee ons Hom en ons naaste liefhet. Jesus het vir ons gesterf sodat ons vir Hom kan lewe – nie meer selfsugtig vir onsself nie. Dit vra ‘n gesindheid van liefde en onselfsugtigheid. Dit word die lens waarmee ons na ander mense kyk – deur God se liefdevolle en genadige oë. Derdens antwoord ons met ons hele lewe. ‘n Lewe van Gehoorsaamheid! Die boodskap van versoening wat ons vrymaak en herstel in ons verhouding met God, word ook God se roeping vir ons. Ons word deel van hierdie versoening deur sy vergifnis en liefde te deel en te verkondig! Dit beteken ons is gesante, ambassadeurs van God. Hierdie bediening van die Versoening het God aan ons toevertrou! Hy stuur ons dus om vergifnis te gaan bedien in liefde, elke dag van ons lewe.

8.    BID SAAM – Buig voor die Here en aanvaar (weereens) die vergifnis wat God in sy liefde aan jou geskenk het. Hy het vir jou gesterf en opgestaan. Vra die Here om jou met sy liefde te motiveer sodat jy nie meer vir jouself sal lewe nie, maar die versoening van God met ander mense sal gaan deel. Bid spesifiek vir die drie jongmense wat hierdie belydenis vandag voor baie getuies, aflê: Brendan Sassenberg, Cameron Mienie en Chanté Nell. Bid dat Jesus se liefde hulle (en ons) sal dring om nie meer vir onsself te lewe nie, maar in Jesus se Naam die boodskap van die versoening te dra en uit te leef!