1.    LIEF EN LEED – deel met mekaar julle lief en leed met die oog op perspektief, dankbaarheid en voorbidding.

2.    INGENOOI IN GOD SE TEENWOORDIGHEID – raak rustig en bid saam. Jy/julle is in die liefdevolle teenwoordigheid van die almagtige God, wat ons Vader geword het deur die bloed van Jesus Christus ons Here.

3.    LUISTER NA GOD SE WOORD – lees Kolossense 2:6-15 in stilte deur. Wat sê die gedeelte vir jou?

4.    LUISTER NA MEKAAR EN DIE WêRELD – Dink en gesels met mekaar oor Christenskap en die doop. Wat dink julle is die verhouding tussen die doop en Christenskap. Wat lê in die hart van Christenskap en hoe sou dit met die doop in verband gebring kon word?

5.    LUISTER VERDER NA DIE WOORD VAN GOD – lees weer Kolossense 2:6-15. In hierdie gedeelte gaan dit oor ‘n lewe en ‘n bestaan in verbondenheid met Jesus Christus. Dit gaan oor die identiteit van kind van God wees – in verbondenheid met Jesus het ons saam met Hom gesterf en is ons dood vir die sonde. In verbondenheid met Hom het ons saam met Hom opgestaan en lewe ons nie meer vir onsself nie, maar vir Hom wat vir ons aan die kruis gesterf het en opgestaan het uit die dood en tot in ewigheid lewe!

6.    FOKUS OP WAT GOD DOEN – Jesus is die volheid van die beeld van God. m.a.w. in Jesus Christus word God se hele wese weerspieël en vervat. Aan Hom behoort alle mag in die hemel en die aarde. Hy is Here oor alles en almal – ook alle magte en gesag. God het Jesus uit die dood opgewek – ‘n teken van oorwinning en heerskappy en Hy het al ons sondes so vergewe. Ons skuldbewys is aan die kruis vasgespyker en ons sonde vir goed van ons weggeneem. Jesus Christus het die oorwinning behaal en die bose, die dood en die oordeel van God as krygsgevangenes weggevoer en ten toon gestel – ‘n gebruik destyds wanneer ‘n koning of keiser die oorwinning behaal het.

7.    ANTWOORD MET JOU LEWE – Aan die bokant van die kruis van Jesus het nie net gestaan: Jesus Christus, die Koning van die Jode nie, maar ook jou en my naam! Hy het vir jou sonde en skuld gesterf! Ons is met ‘n geestelike besnydenis besny, by die doop, wat gaan daaroor dat ons sondige natuur weggeneem is en dat ons die eiendoms-volk van God geword het. Die doop is dus die teken van absolute vergifnis, asook die teken daarvan dat ons aan God behoort en nou in Jesus se Naam vir Hom lewe. Die doop is die teken van ons verbondenheid aan Jesus – dat ons deur sy bloed en genade vasgebind is aan Hom, dat ons saam met Hom gesterf en saam met Hom opgestaan het en elke dag tot in ewigheid saam met Hom lewe! Vrygespreekte mense wat God se onverdiende genade ontvang en daaruit lewe!

8.    BID SAAM – Buig voor die Here en aanvaar (weereens) die vergifnis wat God in sy liefde aan jou geskenk het. Hy het vir jou gesterf en opgestaan. Hy is die volheid van die beeld van God en in verbondenheid deel ons in sy volheid. Dit beteken ons is verlos en vrygespreek en leef as kinders van God uit sy genade. Dank God dat Hy met jou doop jou hieraan kom herinner en ingelyf het en bid vir die hele gemeente. Bid ook vir Dillon en Linda Duvenhage met klein Nadine en Herman en Jaenine Visser met Christo en Jaendre; dat hulle vas aan Jesus sal lewe, en sy liefde, vergifnis en genade sal beantwoord en uitleef.