1.    LIEF EN LEED – deel met mekaar julle lief en leed met die oog op perspektief, dankbaarheid en voorbidding.

2.    INGENOOI IN GOD SE TEENWOORDIGHEID – raak rustig en bid saam. Jy/julle is in die liefdevolle teenwoordigheid van die almagtige God, wat ons Vader geword het deur die bloed van Jesus Christus ons Here.

3.    LUISTER NA GOD SE WOORD – lees Matteus 25:14-30 in stilte deur. Wat sê die gedeelte vir jou?

4.    LUISTER NA MEKAAR EN DIE WêRELD – Dink en gesels met mekaar oor wat God alles aan jou en ons toevertrou/leen.

5.    LUISTER VERDER NA DIE WOORD VAN GOD – In Matteus 25:14-30 lees ons van ‘n huiseienaar wat op reis gaan, en sy besittings aan sy slawe toevertrou. Vir die een gee hy vyf goue munte (talente), vir ’n ander twee en vir die derde slaaf een. Hy gee nie aan elkeen dieselfde nie, maar volgens sy vermoë (bekwaamheid). Hy ken die potensiaal van elke slaaf en verwag ook nie van hulle dieselfde nie. Hy vergelyk hulle nie met mekaar nie, maar verwag dat elkeen rentmeester sal wees met die potensiaal wat hy/sy het. Ons ken die verdere verloop v/d verhaal. Die een met vyf munte woeker en verdubbel dit na tien, die een met twee verdubbel dit na vier; maar die een met een talent gaan steek dit weg. Toe die eienaar terugkom bedank en loof hy die twee wat met hulle talente gewoeker het, en veroordeel hy die een wat dit weggesteek het.

6.    FOKUS OP WAT GOD DOEN – Die Here vertrou aan ons talente toe. In die gelykenis was die talente goue muntstukke. Dus, geld. Natuurlik vertrou die Here ook aan ons geld en aardse besittings toe, maar die beginsel gaan nie net, of selfs in die eerste plek oor geld nie! Watse talente vertrou die Here aan ons toe? Die eerste is genade – vergifnis! Ons vier vanjaar die 500ste jaar van die hervorming, toe Martin Luther en sy tydgenote tot die besef gekom het dat ons uit genade alleen gered word! (Uit die boek Romeine). Daarom vertrou God aan ons die Goeie Nuus van die Evangelie toe: Redding uit genade deur geloof in Jesus Christus! Die tweede is geliefdes (en medemense) – die Here leen ons vir mekaar om in sy Naam in mekaar se lewens ‘n positiewe verskil te maak. Die derde is geleenthede – elke dag is ‘n geleentheid – meer tyd om Hom te loof, te groei in my geloof en meer tyd om lief te hê! En die vierde talent is: die LEWE! Om elke dag die lief en leed uit God se hand te ontvang, die volheid van die lewe te vier en die lewe te deel. En vyfdens natuurlik ook besittings, finansies, tyd en energie (gesondheid).

7.    ANTWOORD MET JOU LEWE – Die vraag aan jou en my is: wat maak ons met die talente wat die Here ons gee? Elkeen afsonderlik, maar ook gesamentlik as die gemeente van die Here. Hoe gebruik ons die gawes, geleenthede en geliefdes wat die Here vir ons gee? Is ons ware rentmeesters van die Here wat sy potensiaal vir ons verwesenlik?

8.    BID SAAM – Buig voor die Here loof Hom vir die talente (gawes) wat Hy aan ons gee, dat Hy Homself en sy boodskap van hoop aan ons toevertrou. Dank die Heer vir ons gemeente – 58 jaar van genade – waarin die Here ons vashou, dra en gebruik in sy koninkryk. Dank Hom ook vir sy genade en elke geliefde, medemens en geleentheid wat Hy aan ons toevertrou. Verbind jouself aan Hom om die talente wat Hy jou (ons) gee, na die beste van ons vermoë en potensiaal te gebruik!