1. Lief en leed – deel met mekaar lief en leed vir voorbidding en ondersteuning.
2. Ingenooi in God se rus en tyd – Raak stil in die teenwoordigheid van die Here en bid saam. Lees nou 2 Korintiërs 8:1-15 en 2 Korintiërs 9:5-15 saam deur en oordink veral wat jou getref het in terme van vrygewigheid en hulpverlening aan mense. Deel dit met mekaar in gesprek.
3. Luister na God se Woord – Paulus skryf aan die Korintiërs oor die gemeentes in Masedonië. Hy vertel hoe goed God is vir al die gemeentes. Die een groot krisis na die ander het hulle getref. Maar die terugslae en swaarkry kon nie hulle blydskap demp nie.
Lees weer hoofstuk 8 verse 1-5. Paulus wil hê ons moet weet van die genade wat die gemeentes in Masedonië van God ontvang het (vers 1). Wat is hierdie genade volgens vers 2? GESELS saam oor die merkwaardige inhoud van vers 2! Al kry hulle swaar deur verdrukking, is hulle blydskap oorvloedig! Al is hulle baie arm, hulle is ryk in hulle oorvloedige vrygewigheid! Vers 3 sê dat hulle, ten spyte van hulle moeilike omstandighede, bó hulle vermoë bydra vir die werk van die Here! Daar word nie vir hulle gevra om by te dra nie…. Vers 4 sê: “Uit eie beweging het hulle…..daarop aangedring om te mag deel in die liefdeswerk van hulpverlening aan gelowiges…” GESELS saam oor die betekenis van die woorde “uit eie beweging…” en “om te mag deel in die liefdeswerk….” Hoekom kry hulle dit reg? Die antwoord lê in vers 5. Omdat hulle hul lewe volledig aan die Here gegee het!! Daarom kon hulle volgens God se wil optree, sê die laaste deel van vers 5.
Paulus gaan verder in verse 7-9 en vra hulle om die geldinsameling vir gelowiges in Judea op die hart te dra. Vers 8 sê dat hy nie voorskryf nie. Hulle moet op grond van die motivering van vers 9 reageer. Lees nou vers 9 en gesels saam oor die betekenis daarvan vir jou persoonlik. Wat beteken vers 9 nou vir jou persoonlik in terme van jou gee vir die werk van die Here?
In 2 Korintiërs 9:6-8 praat Paulus verder met die gemeente oor wat hulle gee vir die Here se werk en die armes. Hy skryf nie voor wat hulle moet gee nie. hy wil hulle lei om ‘n “werklike offer van dankbaarheid” te gee, volgens vers 5 se laaste deel. In verse 6-8 gee hy nou duidelike riglyne. Lees verse 6-8 en gesels veral oor die woorde: “…want God het die blymoedige gewer lief”.
Die Boodskap vertaal vers 8 so: “God laat julle in al sy goedheid deel. Nee, eintlik oorlaai Hy julle met sy genade, sodat julle altyd oorgenoeg van alles het. Julle het geen gebrek op geestelike of materiële gebied nie. Daarom kan julle altyd goed doen, en ander mense help. Ja, julle kan regtig oorloop van vrygewigheid en goeie werke.” Gesels saam oor hierdie wonderlike waarheid en hoe dit in ons lewens realiseer.
4. Luister na mekaar en die wêreld – Hoe verskil die wêreld se siening van “gee” met dit wat ons hier in die Skrif gelees het? Hoekom moet daar so dikwels van gelowiges gevra word om te gee vir die werk van die Here? Hoekom gee hulle nie “uit eie beweging” nie? (vers 4). Besef ons dat dit ‘n voorreg is ”om te mag deel in die liefdeswerk” van die Here, en dit uit dankbaarheid?
5. Luister weer na die Woord – lees weer 2 Korintiërs 8:4, en dan vers 9. Lees ook weer 2 Korintiërs 9:6-8. Dink hieroor na in terme van jou eie rentmeesterskap voor die Here met alles wat Hy aan jou gee. Eugene Grimm het gesê: “Rentmeesterskap is alles wat ‘n mens doen, ná jy gesê het:”Ek gló”.
6. Fokus op wat God vir jou wil doen – deel met mekaar waarheen die Here ons elkeen wil neem in terme van rentmeesterskap. Gesels daaroor.
7. Antwoord met gebed en met jou lewe – Bid nou saam en gaan leef jou geloof ten opsigte van rentmeesterskap.
8. Diensbeurte: maak weer as groep seker van diensbeurte.