1. Lief en leed - Deel met mekaar julle lief en leed asook wat jou Sondag getref het.

2. Ingenooi in God se rus en tyd – Wanneer ons stil word voor God, is dit nie om God te nooi om by ons te wees nie, maar die erkenning dat ons in God se teenwoordigheid is! Hy is klaar hier! Hy nooi ons in sy teenwoordigheid in. Ons leef elke oomblik in sy teenwoordigheid! Word stil voor Hom en dank God dat jy die vrymoedigheid mag om in God se teenwoordigheid te mag wees.

3. Luister na God se Woord - Lees Jesaja 25:6-8 en 2 Korintiërs 3:13-18 eers in stilte deur. Vra iemand nou om dit hardop vir die groep voor te lees. Waaroor gaan dit hier? Die gedeeltes gaan oor feesvier, God se koningskap, verskillende volke, heerlikheid wat kom, bediening, veroordeling en vryspraak. Dit praat o.a. oor sluiers (ook ‘n doek wat verwyder word) en die groeiende heerlikheid van God wat wat mense uitstraal. Dit vertel ook van God die Heilige Gees se rol en werking in ons lewe.

4. Luister na mekaar en die wêreld – Dink na en gesels oor dinge wat mense se geestesoë vir God en sy Evangelie toemaak. Wat versluier (verblind) mense dat hulle nie God se genade kan raaksien of beantwoord nie? Wat is daar wat mense doen of sê, of versuim of verswyg wat dit vir ander moeilik maak om God se liefde te beleef en sy vergifnis hulle eie te maak. Deel met mekaar watse dinge jou dalk van Christenskap sou kon afsit, of wat jy dalk soms doen/nie doen nie, wat ander mense sou kon wegstoot. Dink ook oor dinge wat al in God se Naam gedoen/gesê word/is, wat ander mense veroordeel en wegstoot.

5. Luister nou weer na die Woord – Dink nou na oor Jesaja 25:6-8 en 2 Korintiërs 3:13-18.  In die gedeeltes gaan dit oor die bediening wat die Here ook aan jou en my opgedra het asook ‘n sluier/doek wat dit kan bedek of bedek het. Die doek wat oor al die volke gegooi was en die sluier wat Israel bedek het, was eintlik ‘n doodskleed, wat maak dat hulle God se genade nie kon raaksien of aanvaar nie. ‘n Lewe onder die wet wat tot die dood en oordeel van God lei. Maar God se bedoeling was anders. Hy wil almal verlig en aanraak met sy heerlikheid, sy verlossing deur Jesus Christus.

6. Fokus op wat God doen – Dit is God wat deur Jesus Christus die sluier, die doek waarmee alle volke bedek was, die doodskleed van ons af verwyder, sodat ons Hom kan raaksien en soos Moses in ‘n persoonlike verhouding met Hom kan staan. Sodat ons gered kan word en sy heerlikheid kan weerspieël. Sodat God se genade deur ons kan toeneem –ook aan ander gegee kan word.

7. Antwoord met ons lewe – Die hartseer is dat ek en jy as gelowiges en ons getuienis baie keer God se genade versluier i.p.v. ontsluier. Dan is dit nie regtig genade nie, maar veroordeling! Dis hartseer dat die manier en gesindheid waarop ons ander mense benader, hulle dikwels eerder wegstoot van God, as aanraak met sy liefde. Dat ons in plaas van om vergifnis en vryspraak te bedien, teruggryp na die bediening wat tot die dood lei – deur mense te veroordeel! Dit is egter ons roeping en voorreg om mense te dien met God se aanvaarding en genade. Dit beteken jy moet voor ander gaan buig met nederigheid, aanvaarding en liefde. Ons moet ophou kritiseer en polariseer en eerder God se vryspraak bedien en uitleef! Hoe gaan jy in hierdie week met vrymoedigheid die genade van God bedien, en nie versluier nie? Sodat ander God deur jou kan beleef!

8. Bid nou saam - Dank God vir sy teenwoordigheid en die vrymoedigheid om in sy teenwoordigheid te mag wees! Doen ‘n oomblik in stil gebed selfondersoek – wat is daar in jou gesindheid, houding, optrede of woorde wat mense wegstoot of veroordeel. Vra die Heilige Gees om jou bewus te maak daarvan. Buig voor God in gebed oor wat ons as groep of gemeente of gelowiges doen/nie doen nie, wat ander mense die sluier oor die kop trek. Lê dit voor die Here en wy jouself aan Hom. Stel jou beskikbaar om genade te bedien, wat tot vergifnis en vryspraak lei! En dank Hom dat ons dit met die nagmaal kan vier – dat die sluier weggeneem is en dat ons mag aansit by God se feesmaaltafel!