1. Lief en leed -Deel met mekaar julle lief en leed asook wat jou Sondag met die eredienste getref het.

2. Ingenooi in God se rus en tyd – Wanneer ons stil word in stiltetyd, ‘n omgeegroep of ‘n erediens, is dit nie om God te nooi om tog by ons te wees nie, maar eerder die erkenning dat ons (saam) in God se teenwoordigheid is! Hy is klaar hier! Hy nooi ons in sy teenwoordigheid in. Ons leef elke oomblik in sy teenwoordigheid, maar in ‘n groep of erediens vergader ons saam as sy huisgesin! Word stil voor Hom en dank God dat Hy hier en nou by ons teenwoordig is!

3. Luister na God se Woord - Lees Miga 6:6-9 eers in stilte en dan hardop deur. Waaroor gaan dit hier? Watter opskrif/te sou jy/julle aan hierdie gedeelte kon gee? Met watter vraagstuk worstel die skrywer hier? Die gedeelte gaan oor die vraag na wat ons sou kon en moes saamneem wanneer ons voor die almagtige God kniel? Amper soos die Hallelujalied – Moet ek gaan met leë hande? In die Ou Testamentiese tyd was dieselfde vraag: Watter offer kan/moet ek vir die Here bring wat vir Hom aanneemlik is? Natuurlik kan en hoef ek God se genade en liefde nie te verdien nie, maar ek moet myself aan Hom gee, op grond van sy offer aan my.

4. Luister na mekaar en die wêreld – Dink na en gesels oor hoe die samelewing vandag die vraag na wat ons sou kon en moes saamneem wanneer ons voor die almagtige God gaan kniel, sal beantwoord. Vra mense nog hierdie vraag, of het ons enersyds so selfbehep en andersyds so gewoond aan God geword, dat ons nie eers meer hierdie vraag vra nie? Dit sou tog hartseer wees, nie waar nie? Hoor by mekaar watste offer/s julle dink ‘n mens vir God sou kon bring? Watse offer dink jy, sal Hom waardig wees? En hoekom is dit so, dat as ons iets gee, ons altyd soek na ou of stukkende goed om weg te gee? Is wat ons aan ons naaste doen, dan nie ook offer/s aan God nie?

5. Luister nou weer na die Woord – Dink nou na oor Miga 6 se antwoord in vers 8. Vra die Here nog diereoffers of selfs ‘n mens se eersgeborene, of lê God se verwagtinge op ‘n ander vlak? – Dalk meer soos wat Romeine 12:1b sê: “Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is.” Lees nou ook Maleagi 3:6-12. Die gedeelte begin met die troos en versekering van God se ewige trou en onveranderlikheid. Maar dan in vers 8 hoor ons ‘n verskriklike aanklag: “Sal ‘n mens werklik vir God beroof?” Die antwoord op die (retoriese) vraag is (of behoort) natuurlik: NEE! (te wees). Maar dan gaan die gedeelte verder met die ironiese aanklag: “Tog beroof julle My!” Die totaal ondenkbare vermetelheid van ons as mense – om God te beroof van wat Hom toekom; lof eer, gehoorsaamheid, maar ook tiendes en offergawes! Ons beursies is mos (tong in die kies) altyd die laaste om tot bekering te kom – as dit ooit gebeur! Lees maar ook hoofstuk 1 van Maleagi – min of meer dieselfde vraag vir geestelike leiers: “Waar is die eer wat My toekom?... Waar is die eerbied vir My dan?” (1:6) Waarom behandel julle My met minagting? Waarom bring julle onrein voedsel op my altaar? Waarom offer julle blinde en gebreklike goed? Gesteelde, lam en siek diere... (1:6-13). Dalk is die Here toe nie altyd so ingenome met ons soos ons dink of hoop nie?

6. Fokus op wat God doen – God het nie verander nie. Hy sorg nog steeds vir ons. Hy het nog nooit opgehou om dit te doen nie!Hy gee Homself – dit is tog wat ons in die Nagmaal vier – God se offer vir ons! God se ewige, onveranderlike trou! God wat vir ons gesterf het, sodat ons vir Hom kan lewe!

7. Antwoord met ons lewe – Miskien moet ons ‘n slag ons offer/s aan God en die hart (gesindheid) waarmee ons dit gee, ondersoek. Hoe voorwaardelik gee ons? Of gee ons afgeskeepte offers aan God – so uit ons kleingeldsakkie gee ons vir die Here. ‘n Tip vir God!? Kom ons toets die Here – of Hy nie die sluise van die hemel vir ons sal oopmaak, as ons ‘n slag weer aan Hom die eer en lof en offer/s bring wat Hom waardig is nie!

8. Bid nou saam

  • Word stil voor God en ondersoek jou offervaardigheid.
  • Beantwoord dan in gebed eerlik voor God die vraag: Besteel/bedrieg jy dalk die Here?
  • Dank God dat Hy vir jou en my sorg en dat Hy al vir 54 jaar vir ons gemeente sorg! Daarom kan ons ‘n lofofferfees (verjaarsdagfees) vier!
  • Bid ook vir gelowiges, die omgeegroep/e en die gemeente – die kerk van Jesus Christus - dat ons offervaardigheid en rentmeesterskap so sal wees soos God van ons vra.
  • Maak dan aan God ‘n onderneming om werklik aan Hom te gee wat Hom toekom en sê vir Hom dankie dat Hy ons so seën!