1. LIEF EN LEED – deel met mekaar vir gebede en bemoediging en danksegging.
2. RAAK STIL IN GOD SE TEENWOORDIGHEID – bid saam vir die byeenkoms.
3. LUISTER NA GOD SE WOORD – lees saam MATTEUS 28:16-20 en 2 KORINTIëRS 4:1,5,7. Wat tref jou met die eerste oogopslag in hierdie tekste? Gesels saam daaroor.
4. LUISTER NA MEKAAR EN DIE WêRELD – Wat sê bogenoemde tekste vir jou oor die begrip dat ons gestuurdes is met gestuurde gesag? Wat dink jy, wat dink die wêreld van die gesag waarmee ons na hulle kom in die Here se Naam?
5. LUISTER WEER NA GOD SE WOORD – lees weer bogenoemde tekste by punt 2. ‘n KERNTEKS wat gestuurde gesag beklemtoon is 2 Kor. 4:5. Lees dit weer. Wat beteken dit vir jou? Ons leef en verkondig nie onsself nie, maar Jesus Christus as die Here! Ons dien! Ons gaan dien met gestuurde gesag, die Here se gesag. Ons gaan dien ook met die gawes van die Heilige Gees. Matteus 28:18-19 beklemtoon dat ons gaan met die Here se gesag. Aan Hom is alle mag gege, en Hy gee ons die opdrag: Gaan dan…! Op ‘n ander plek:“Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle.” Met God se gesag gaan Jesus, met Jesus se gesag gaan ons. Die woordjie “gaan” beteken in die Grieks “terwyl jy gaan”, met ander woorde “ganende”. Oral waar jy leef en gaan! Ons moet bewus wees van die Persoon en die mag agter die boodskap wat ons dra, en agter die dade waarmee ons dien. Ons kan maklik moedeloos word as ons teenstand in die wêreld kry, of as ons diensbaarheid mense nie aanspreek nie. Dan moet ons 2 Kor. 4:1 onthou! Lees dit. Gesels saam daaroor. Ons verkondig nie onsself nie. Ons dien ook ter wille van Christus. Ons gaan in die Naam van Jesus, met sy gesag, in sy krag. Dit gee ons sin in hierdie lewe! Dat ons nie onsself verkondig en uitleef nie, maar Jesus Christus as die Here, en onsself as dienaars ter wille van die Here! Die Here, met alle mag, stuur kwesbare mense soos ons. Die Here dwing nie mag af nie maar dring met sy liefde. Hy oorrompel nie met mag nie, maar oorwin met liefde. Hy jaag nie soos ‘n orkaan nie, maar nooi uit met sy hart vol deernis. Sy tekens van oorwinning is ‘n krip en ‘n kruis. Sy dienaars is nederige mense. Hy saai saad wat verskroei of groei. Gestuurdes van die Here ontvang nie dawerende applous nie. Hulle doen ook nie groot demonstrasies nie. Maar God se gesag en krag lê in gestuurdes se klein dade en woorde. Lees 2 Kor. 4:7. Wat sê dit vir jou? God se hand is agter jou hand, sy stem agter jou stem, sy krag agter jou magteloosheid, die Heilige Gees agter jou getuigende gees…!
6. FOKUS OP WAT GOD DOEN – gesels saam oor bogenoemde insigte en dit wat God deur ons as sy gestuurdes doen.
7. ANTWOORD MET GEBED in terme van ons roeping as gestuurdes van die Here in sy gesag en met sy krag.