1. LIEF EN LEED
Deel julle lief en leed met mekaar vir gebede en bemoediging en danksegging.
2. RAAK STIL IN GOD SE TEENWOORDIGHEID
Buig in gebed vir die byeenkoms. Julle kan dit in stilte doen, of dat iemand hardop bid.
3. LUISTER NA GOD SE WOORD
Lees uit Lukas 12:54 – 13:9. Wat tref julle met die eerste oogopslag in hierdie gedeelte? Gesels saam daaroor.
4. LUISTER NA MEKAAR EN DIE WêRELD
Gesels oor die droogte in die Kaap en watter verklarings mense daarvoor het. Gaan dit oor natuurlke oorsake of is dit ‘n geestelike ding? Hoekom daar ver in die Kaap en nie ook hier by ons nie? Het dit spesifieke geestelike betekenis, of is dit maar net ‘n normale natuurverskynsel? Is dit dalk God se straf, en hoekom dan juis in die Kaap.
5. LUISTER WEER NA GOD SE WOORD
Lees weer Lukas 12:54 – 13:9. In hierdie gedeelte praat Jesus o.a. oor die weer. Maar nie sommer mooiweerpraatjies nie. Hy praat oor die interessante verskynsel dat mense (destyds al!) die weer kan voorspel, maar nie die geestelike betekenis (God se bedoeling) met gebeure verstaan nie. En dan gaan Hy verder oor die etiese optrede van mense. Dat gelowiges vanuit hulle oortuiging opreg en regverdig moet optree en nie deur die menslike howe forseer moet word om te doen wat reg is nie. En dan word Jesus in sy gesprek onderbreek met ‘n stukkie nuus. Mense in die Noordelike provinsie (Galilea) was besig om te offer, toe hulle deur Pilatus, die Romeinse goewerneur tereggestel is. Hulle was m.a.w. besig met ‘n geestelike aktiwiteit (om te aanbid) en word toe, waarskynlik heeltemal onregverdig deur Pilatus vermoor. Iets wat mense na die sin en rede vir sodanige sinlose optrede laat vra. Jesus wat die harte van mense ken, het geweet dat hulle (net soos ons) onwillekeurig gedink het dat daardie mense iets verkeerd gedoen het en die optrede dus verdien het. Daarom praat Hy ook oor die ongeluk toe agttein mense dood is by die toring van Siloam wat ingeval het. Dit was in die hoofstad, Jerusalem in die suidelike provinsie, Judea. Dit was ook nie hulle eie skuld nie, sê Hy. Maar julle moet julle eerder verootmoedig voor God as om die skuld vir ander mense te gee, ander sal julle ook so omkom! Dus ken Jesus nie sonder meer skuld aan ander toe nie, maar sê dat elke mens hom/haarself eerder moet verootmoedig as om ander te veroordeel. Soos die tollenaar en fariseër se gebede! Die fariseër vergelyk hom met die tollenaar en dank God dat hy nie (so sondig) soos die tollenaar is nie. Die tollenaar verootmoedig homself en smeek God om hom genadig te wees.
6. FOKUS OP WAT GOD DOEN
God sorg vir ons as mense, maar haat dit as mense van Hom wegdraai of ongehoorsaam is. En daarom moet ons eerder sorg dat ons eie saak met God reg is, as om ander te veroordeel!
7. ANTWOORD MET GEBED
Buig in gebed voor die Here en verootmoedig julleself voor Hom. En dan bid ons vir reën in die Kaap en vir die mense en diere wat swaarkry en gaan kyk met sagte oë na ander, soos God na ons kyk!