1.    LIEF EN LEED – deel met mekaar ter wille van gebed, bemoediging en danksegging.

2.    RAAK DOELBEWUS STIL IN GOD SE TEENWOORDIGHEID – bid saam vir die byeenkoms.

3.    LUISTER NA GOD SE WOORD – lees saam MATTEUS 10:32-39. Wat tref jou met die eerste oogopslag in hierdie gedeelte. Deel dit met mekaar. Gesels daaroor.

4.    LUISTER NA MEKAAR EN DIE WêRELD – wat sê bogenoemde gedeelte in Matteus 10 vir jou in terme van die tema van hierdie stuk: NEEM RISIKO’S TER WILLE VAN DIE EVANGELIE ! Wat dink jy is die wêreld se belewenis van Christene en hul getuienis met woord en daad.

5.    LUISTER WEER NA GOD SE WOORD – lees weer MATTEUS 10:32-39. Baie mense is tevrede met ‘n “gemaklike” Jesus. Die “liewe Jesus” beeld. En dit is Jesus ook inderdaad. Maar dan kry ons ook ‘n teks soos hierdie waarin Jesus self aan die woord is, en waarin ons sien dit kos kruisdra en risiko’s om Jesus te volg. Dit vra “guts” en die neem van risiko’s ter wille van die evangelie in die wêreld. DISSIPELS VAN DIE HERE JESUS NEEM RISIKO’S AS ‘N KONTRAS-GEMEENSKAP IN HIERDIE WêRELD. Die gemeente van die Here sien haarself as anders as die wêreld, en dit as gevolg van die gemeente se deelname in die lewe, sterwe en opstanding van die Here Jesus. In ons gestuurde roeping in hierdie wêreld leef ons die implikasies van ons verhouding met die Here uit. En dit is GROOT! Daarom moet ons leer om interne en eksterne weerstand te hanteer ter wille van die evangelie. LEES weer vers 32. Om Jesus te volg beteken om deel te wees van die gemeenskap waarin ons lewe, maar tog ook deel te wees van die kontras daarvan! Dit beteken om in die wêreld te wees, maar nie van die wêreld nie. Ons is juis sout en lig en suurdeeg. Ons is alles behalwe in ‘n gemaksone. Wanneer jy in ‘n gemaksone is moet jy vra: Waar ís ek ter wille van die evangelie?! Neem ek énige risiko’s ter wille van die evangelie?! In verse 34-35 stel Jesus dit baie sterk! LEES dan Jesus se gevolgtrekking in vers 38! Vers 36 sê selfs ons huismense word betrek. Gestuurdes van die Here gaan verseker teenstand kry, selfs van jou geliefdes. Die wêreld wat nie voor die Here wil buig nie, sal die swaard lig. Die wêreld lig die sward! Nie Jesus nie! Ook nie die dissipels nie! Matteus 10:32-39 beklemtoon die radikaliteit daarvan om ‘n gestuurde van die Here te wees in hierdie wêreld, ja, selfs in jou eie gesin! God se vrede is nie wêreldse vrede nie. Dit is nie vrede, vrede, ter wille van vrede nie. God se vrede is radikaal! Dit is nie gemaklik in die wêreld nie, maar dit is vrede by God! LEES weer vers 38. Kruisdra vir die Here is risiko’s loop in hierdie wêreld, ter wille van die evangelie! Hierdie risiko’s geld ook ter wille van jou persoonlik: LEES vers 39! CHRISTENWEES IS KRUISDRA, IS RISIKO’S NEEM, TER WILLE VAN DIE EVANGELIE! Maar oor hierdie kruisdra bemoedig die Here self ons, met MATTEUS 11:30. LEES DIT SAAM IN DIE GROEP!

6.    FOKUS OP WAT GOD DOEN – gesels saam oor dit wat God doen wanneer ons bereid is om risiko’s te loop ter wille van die evangelie.

7.    ANTWOORD MET GEBED in terme van ons roeping as gestuurdes van die Here, as ‘n kontras gemeenskap in hierdie wêreld, tot sy eer!