1. LIEF EN LEED: Deel met die groep wat jou lewe dié week betekenis gegee het …. en wat van jou betekenis weggeneem het.
2. RAAK STIL IN GOD SE TEENWOORDIGHEID: Buig in gebed vir die byeenkoms. Julle kan dit in stilte doen, of dat iemand hardop bid.
3. LUISTER NA GOD SE WOORD - Lees 1 Petrus 1:3-9
4. LUISTER NA MEKAAR EN DIE WêRELD: Almal raak ouer. Veroudering begin baie vroeg in jou lewe. Hoe voel JY oor die feit dat jy ouer word (ongeag jou ouderdom)? Waarom skram mense weg van die gedagte van ouer word?
5. LUISTER WEER NA GOD SE WOORD
• Sê vir mekaar wat julle onder die begrip ‘betekenisvolle’ lewe verstaan – en is dit ook waar van mense wat as ‘seniors’ beskou word? … en mense wat in sorgeenhede is – of gestremd is hulle lewe lank?
• Mense sê baie graag: Ouer word is nie vir ‘sissies’ nie. Waarom voel mense so?
• Lees 1 Pet 1:3 en Kol 1:5. Wat verstaan julle onder die begrip “hoop”. (Dis duidelik nie dieselfde as wat ons onder “mag dit so wees” verstaan nie – dit het ‘n duidelike element van vastigheid en sekerheid – anders as die gewone verstaan van die word)
• Klaarblyklik kry dié vaste hoop veral betekenis wanneer dit NIE met jou goed gaan nie (lees vers 6)
• Op watter manier maak dié sekerheid van ‘hoop’ ‘n mens se geloof sterker? (kyk vers 7)
• Veroudering (veral in die ‘tweede helfte’ van mens se lewe) bring tipiese verouderingsverwante uitdagings na vore (noem voorbeelde: dink aan tipiese fisieke, emosionele, sosiale en godsdienstige uitdagings).
• Hoe kan mens – wanneer jy met dié uitdagings te doene kry – groei in jou geloof … vanuit die gedagte van HOOP wat ons in vers 7 gesien het?
• Betekenisvol lewe kan DRIE voorwaardes besit:
o Jyself moet voel wie jy is en wat jy doen maak vir JOU en jou lewenskwaliteit sin
o Jou gevoel van betekenisvolheid in dit wat jy doen en is moet vir iemand anders betekenis inhou
o Jou ervaring van betekenis moet vir God se Koninkryk in die wêreld waar jy leef en beweeg ‘n verskil maak.
• Hoe dra HOOP by om dit te verwesenlik?
6. AKSIE
Wat kan JY en JULLE as groep doen om betekenis toe te voeg aan julle eie lewens … en veral die lewens van die heelwat ouer mense in die gemeente?
7. Gebed
Dank die Here vir sy Woord – tree in vir iemand wat julle ken wat HOOP nodig het.