1. Lief en Leed – deel met mekaar lief en leed vir bemoediging en voorbidding.

2. Ingenooi in God se rus en tyd – ons nooi God nie in ons teenwoordigheid in nie. Ons is met ons hele lewe in sy teenwoordigheid! Deur Jesus Christus het ons vrye toegang tot Hom! Daarom kan ons vrymoedig en dankbaar nou in sy teenwoordigheid rustig raak by Hom, en bid vir ontvanklike harte en ‘n leerbare gees by ons elkeen. BID NOU SAAM.

3. Luister na God se Woord – Lees Lukas 18:9-14 saam deur. Watter gedagtes, beelde of vrae kom by jou op? Wat tref jou? GESELS nou eers saam daaroor. Lukas maak seker dat ons mooi verstaan waaroor Jesus hierdie gelykenis vertel. Vers 9 en vers 14 se tweede deel beklemtoon dit. GESELS saam daaroor. Watter waarskuwing hoor jy in hierdie verse? Aan die ander kant: Watter uitnodiging hoor jy in hierdie verse?

4. Luister na mekaar en die wêreld – Hoeveel waarde heg die samelewing en selfs medegelowiges aan die uiterlike, soos ons mooi godsdienstige tradisies en gebruike? In die lig van die Fariseër se optrede: Wanneer word jou mooi tradisie, en erfenis, en godsdiensbeoefening ‘n sondige hoogmoed? Hoe moet ons hierteen waak, volgens vers 9? Dink mooi na oor vers 11, en hoe ons dink oor ander mense wat “groter sonde” as ons het. Ons dink ook so oor medegelowiges van ons eie kerk, en ander kerke wat anders as ons aanbid, of dink! Hoe kan ons hierdie hoogmoed teëwerk? Die openbare media hou ons kerk, en ook ander gelowiges verantwoordelik vir baie dinge wat verkeerd loop in ons samelewing. Hoe laat dit jou voel? Hoe kan ons negatiewe persepsies by die wêreld, dat ons hoogmoedig en veroordelend is, oorwin?

5. Luister nou weer na die Woord – Lees nou weer Lukas 18:9-14 met ‘n oop gemoed, en luister wat die Here vir jou persoonlik oor jou eie lewe hierin sê. Die tema wat soos ‘n goue draad deur Lukas 18 loop, is dat mense wat deur ander mense, en selfs ook deur ons uitgesluit en verstoot word, deur Jesus by die Koninkryk ingesluit word! ‘n Fariseër en ‘n tollenaar gaan tempel toe om te bid. En juis hier by die tempel, waar die soenoffers gebring word, juis hier is die vraag: Wie ontvang versoening van God? Jesus vra nie eers vir hulle die vraag nie. Hy weet wat hul antwoord sal wees. Jesus se hoorders sou dadelik sê die Fariseër. Hy is tog die een wat al die voorskrifte nougeset nakom. Maar Jesus sê dat God nie na die uiterlike kyk nie, maar na die innerlike. GOD KYK NA JOU HART! Lees gerus ook 1 Samuel 16:7 hieroor. Wat openbaar die Fariseër se gebed oor die gesindheid teenoor homself, en teenoor die tollenaar? Die Griekse werkwoord wat hier met “wees my genadig” vertaal word, kom ook in Hebreërs 2:17 voor. Daar word dit met “om te versoen” vertaal. Hoe help dit jou om die tollenaar se gebed beter te begryp?

6. Fokus op wat God doen – Lees Joël 2:28-29 en net die eerste deel van vers 32. Wie word hiervolgens ingesluit as mense wat die Gees sal ontvang? Wat sê dit vir ons oor wat God doen, en hoe ons oor onsself, én ander mense moet dink? Wat sê dit oor waar God vandag werk? Vir wie wíl, en kán God inskakel om sy koninkryk te laat kom?

7. Antwoord met gebed en met ons lewe – gebruik Psalm 65:2-6 as deel van jou gebed in antwoord aan die Here. Let op vers 3 wat sê “alle mense” en vers 6 wat sê “ook die mense in afgeleë lande en op verre seë ” wat op God vertrou. Bid ook vir ons Tiende Maand dankoffer, dat ons nie soos die Fariseër in vers 12 oor ons tiende sal dink nie, maar sal besef dat God ook daarin na ons hart kyk. Laat ons ook hierin soos die tollenaar voor God kom staan.