1. LIEF EN LEED
Deel julle lief en leed met mekaar vir gebede en bemoediging en danksegging.
2. RAAK STIL IN GOD SE TEENWOORDIGHEID
Buig in gebed vir die byeenkoms. In stilte, of hardop.
3. LUISTER NA GOD SE WOORD
Lees Romeine 8:9-17. Wat tref julle in hierdie gedeelte?
4. LUISTER NA MEKAAR EN DIE WêRELD
Gesels met mekaar oor hoe ons die Drie-eenheid van God verstaan. Dit is ‘n moeilike konsep vir ons as mense. Die vader, die Seun en die Gees is elkeen God, maar tog aparte Persone. Een Wese, drie Persone. Praat ook met mekaar oor hoe ons die Heilige Gees en sy rol in ons verhouding met God verstaan. Is die Heilige Gees ‘n Krag of ‘n Persoon? Is Hy binne elke gelowige, of net sommiges? Moet ek weer gedoop word om Hom te ontvang? Wat doen Hy in en deur ons?
5. LUISTER WEER NA GOD SE WOORD
Lees weer Romeine 8:9-17. Hierdie gedeelte gaan spesifiek oor die rol van die Heilige Gees en sy verhouding met God die Vader en die Here Jesus Christus en ook met ons. Die gedeelte is duidelik daaroor dat die Heilige Gees ‘n Persoon is. God binne my! Iemand vir wie ons liefhet, aanbid en verheerlik. Iemand met wie ons in ‘n verhouding kan en moet staan. Hy getuig immers saam met my gees dat ek ‘n kind van God is! Hy maak ons mede-erfgename saam met Jesus van God se koninkryk!
6. FOKUS OP WAT GOD DOEN
Dit is nie nodig om ‘n tweede keer tot bekering te kom, ‘n ekstatiese ervaring te hê of om op een of ander buitengewone manier deur die Heilige Gees gedoop te word nie. As jy ‘n kind van God is, het jy die Heilige Gees – of eerder, het die Heilige Gees jou en is Hy in jou. Daar nie so iets is soos ‘n tweede uitstorting van die Heilige Gees nie, maar wel iets soos gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid aan die leiding van die Heilige Gees. Romeine 8:10 stel dit duidelik: As jy Jesus het (in Hom glo), het jy die Gees en as jy Jesus nie het nie, is die Gees ook nie in jou nie. Die Heilige Gees is reeds op Pinksterdag op die kerk van Jesus Christus uitgestort. Daarom word ons in die Naam van die Vader, en die Seun en die Heilige Gees gedoop! Hy leef binne jou en my as gelowiges. Dit beteken dat ons (ook) gedoop is met die Heilige Gees – vervul is met die Gees van God. En daarom leef ons met die vrymoedigheid en krag wat die Heilige Gees vir ons gee.
7. ANTWOORD MET GEBED
Natuurlik vra dit dan dat ons in ‘n lewende verhouding met Hom sal staan en uit gehoorsaamheid teenoor Hom sal lewe. Die Heilige Gees is nie Iemand wat ons dwing om sy leiding te volg nie, maar Iemand wat ons met ‘n sagte hand lei. En in die mate wat ons Hom gehoorsaam, werk Hy in en deur ons. Buig dan voor God en vra dat Hy ons sal help om aan Hom getrou te bly en in gehoorsaamheid die praktyke van die Gees te vertoon. Kom ons gaan leef soos die Gees ons lei!