1. Lief en leed – deel met mekaar julle lief en leed vir bemoediging en voorbidding.

2. Ingenooi in God se rus en tyd – ons nooi God nie in ons teenwoordigheid in nie, ons is met ons hele lewe in sy teenwoordigheid! Deur ons Vriend, Jesus Christus het ons vrye toegang tot Hom! Daarom kan ons vrymoedig en dankbaar nou in sy teenwoordigheid rustig raak by Hom.

3. Bid nou saam. Luister na God se Woord – Lees Johannes 15:9-17 saam deur. Watter gedagtes, beelde of vrae kom by jou op? Kyk ook na die samehang van die Skrifgedeelte. Let op dat Jesus die hoofstuk met die vergelyking van die wingerdstok en die lote begin. Dit gaan oor die intieme verbondenheid tussen Hom en sy Vader en tussen ons en Hom. Dan kom die uitspraak dat ons Jesus se vriende is en die bevel om mekaar lief te hê. Daarna kom ‘n deel van die verwerping van God deur die wêreld en daarom ook die wegstoot van christene deur die wêreld. Hoe bring jy dit met mekaar in verband? GESELS nou eers saam daaroor.

4. Luister na mekaar en die wêreld – Vriendskap is ‘n komplekse en ingewikkelde konsep. Dink ‘n bietjie en deel met mekaar aan watter spreekwoorde jy alles kan dink wat oor vriendskap handel? Hoe sou jy vriendskap definieer en wat sou jy van ‘n goeie vriend verwag? Wat is daar in vandag se lewenswyse wat vriendskap onder druk bring, en wat sou jy/julle graag wou verander in die samelewing t.o.v. vriendskap?

5. Luister nou weer na die Woord – Lees weer Johannes 15:9-17 met ‘n oop gemoed, en luister wat die Here vir jou persoonlik hieroor sê. Die goue draad wat deur die gedeelte loop, is vriendskap, maar dan nie die normale vriendskappe tussen mense nie. Dit gaan oor wat dit beteken om God (Jesus) as Vriend te hê en wat dit vra om sy vriend/e te wees. Let daarop dat Jesus se Vriendskap nie sy Heerskap en Koningskap wegneem nie. Dit beteken nie Jesus is ons ‘pel’ nie, maar tog is Hy ons Vriend! Hy noem ons nie meer ondergeskiktes nie! Hy behou sy verhewenheid en sy absolute aanspraak op ons lewe. Daarom dat daar in die gedeelte ‘n hele paar opdragte is wat ons moet uitvoer. “Julle moet in my liefde bly... Julle moet mekaar liefhê... doen wat Ek julle beveel... aangestel om uit te gaan en vrugte te dra... Julle moet mekaar liefhê!” Vriendskap met God vra gehoorsaamheid! Hy maak ons sy vriende en stuur ons dan om in sy Naam vriende te wees van mekaar! Dit vra van ons om mekaar onvoorwaardelik te aanvaar, deur dik en dun lojaal te bly, met mekaar te deel, na mekaar te luister en tyd te maak vir mekaar.

6. Fokus op wat God doen –Let op wat Jesus (God) in die gedeelte doen: Hy het ons lief; Hy voer die opdragte van sy Vader uit; Hy het sy lewe vir ons afgelê; Hy maak ons sy vriende; Hy kies ons; Hy deel alles van sy Vader met ons en Hy stuur ons om vrug te dra en (mekaar) lief te hê!

7. Antwoord met gebed en met ons lewe – Antwoord jou Vriend nou met gebed

  • Dank Hom dat Hy ons Vriend en ons sy vriende is!
  • Vra Hom om jou te help dat jy nie in eiebelang lewe nie, maar ‘n ware vriend sal wees – ‘n vriend van Hom en daarom ook van jou geliefdes en medemense.
  • Bid vir jou vriende spesifiek.
  • Vra die Here om jou te help om nie te fokus op wat ander aan jou behoort te doen of nie behoort te doen nie, maar eerder op wat jy in God se Naam vir hulle kan beteken.
  • Vra Hom dan om jou te leer om ander mense deur sy oë te sien en so te hanteer dat hulle ook in hulle vriendskap met Hom versterk sal word.
  • Bid vir die babatjies (Anjerike Koekemoer en Johan Griesel) wat Sondag gedoop is, en vir die doopouers Elaine en Ferdi en David en Lielie, dat hulle as vriende van Jesus hulle kinders aan ons Vriend Jesus Christus sal bind.